1 Konings 22:40-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

40. Agab is dood en sy seun Ahasia het hom opgevolg.

41. Josafat seun van Asa het in die vierde regeringsjaar van koning Agab in Israel koning van Juda geword.

42. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, die dogter van Silgi.

43. Josafat het in die voetspore van sy pa Asa gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie en gedoen wat vir die Here reg was.

44. Die heidense hoogtes is egter nie verwyder nie sodat die volk nog steeds daar geoffer en wierook gebrand het.

45. Josafat het in vrede met die koning van Israel geleef.

46. Die ander gebeurtenisse tydens Josafat se regering, sy dapper dade en die oorloë wat hy gevoer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

47. Hy het die tempelprostitute wat uit die dae van sy pa, Asa, oorgebly het, uit die land verban.

48. In daardie tyd was daar geen koning in Edom nie; ’n plaasvervangende persoon het as koning opgetree.

49. Josafat het ook Tarsisskepe gebou om goud uit Ofir te gaan haal. Die skepe het egter nooit soontoe gevaar nie omdat hulle by Esjon-Geber skipbreuk gely het.

50. In daardie tyd het Ahasia seun van Agab voorgestel: “Laat my manne saam met joune op die skepe vaar!” Josafat het egter geweier.

51. Toe Josafat sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.

52. Ahasia seun van Agab het in die sewentiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda in Samaria koning van Israel geword. Hy het twee jaar in Samaria oor Israel regeer.

53. Hy het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die pad van sy pa en ma gevolg en die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat wat Israel laat sondig het.

54. Hy het Baäl gedien en aanbid. Daarmee het hy die Here die God van Israel uitgetart, net soos sy pa gedoen het.

1 Konings 22