23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet wat hom laat afdraai het, die donkie vir hom opgesaal.
24. Die man van God het toe vertrek. Op pad het ’n leeu hom aangeval en doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, terwyl die donkie en die leeu albei langs die liggaam bly staan het.
25. Mense wat verbygekom het, het die lyk gesien wat in die pad lê, en ook die leeu wat daar langsaan staan. Hulle het dit in Bet-El, waar die ou profeet gewoon het, gaan vertel.
26. Toe die ou profeet wat hom laat afdraai het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat ongehoorsaam was aan die Here se opdrag. Dis die Here wat die leeu gestuur het om hom aan te val en dood te maak, soos Hy gesê het.”
27. Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op!” en hulle het dit gedoen.
28. Hy het gegaan en die liggaam gekry waar dit in die pad lê. Die donkie en die leeu het nog steeds daar gestaan. Die leeu het glad nie aan die liggaam gevreet of die donkie aangeval nie.
29. Die profeet het die liggaam van die man van God op die donkie gelaai en dit na Bet-El toe teruggebring om oor hom te treur en hom te begrawe.
30. Hy het die liggaam in sy eie grafkelder neergelê, oor hom getreur en bedroef uitgeroep: “Ag, my broer!”
31. Daarna sê die profeet vir sy seuns: “Wanneer ek sterf, moet julle my in dieselfde graf begrawe waar die man van God begrawe is. Sit my bene langs sy bene.
32. Die boodskap van die Here wat hy oor die altaar in Bet-El en oor die hoogtes in Samaria aangekondig het, sal sekerlik presies so gebeur.”