17. want die Here het my uitdruklik beveel: ‘Jy mag geen kos eet of water drink terwyl jy daar is nie, en jy mag nie met dieselfde pad terugkom as waarlangs jy gegaan het nie.’”
18. Maar die ou profeet het geantwoord: “Ek is ook ’n profeet, net soos jy. ’n Engel het my hierdie boodskap van die Here gegee: ‘Bring hom na jou huis toe en gee hom kos om te eet en water om te drink.’” Maar die ou profeet het vir hom ’n leuen vertel.
19. Die man van God het nogtans saam teruggegaan en by die profeet se huis kos geëet en water gedrink.
20. Terwyl hulle nog aan tafel was, kom daar ’n boodskap van die Here na die ou profeet.
21. Hy sê vir die man van God uit Juda: “Dit is wat die Here sê: ‘Jy het in verset gekom teen die Here se opdrag en was ongehoorsaam aan die bevele wat die Here jou God jou gegee het.
22. Jy het na hierdie plek toe teruggekom en kos geëet en water gedrink terwyl Hy jou belet het om iets te eet of water te drink. Daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.’”
23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet wat hom laat afdraai het, die donkie vir hom opgesaal.
24. Die man van God het toe vertrek. Op pad het ’n leeu hom aangeval en doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, terwyl die donkie en die leeu albei langs die liggaam bly staan het.
25. Mense wat verbygekom het, het die lyk gesien wat in die pad lê, en ook die leeu wat daar langsaan staan. Hulle het dit in Bet-El, waar die ou profeet gewoon het, gaan vertel.
26. Toe die ou profeet wat hom laat afdraai het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat ongehoorsaam was aan die Here se opdrag. Dis die Here wat die leeu gestuur het om hom aan te val en dood te maak, soos Hy gesê het.”
27. Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op!” en hulle het dit gedoen.