17. Rehabeam het bly regeer oor die Israeliete wat in die Judese stede gewoon het.
18. Koning Rehabeam stuur toe vir Adoniram wat oor die dwangarbeid was, na Israel toe. Die Israeliete het hom egter met klippe doodgegooi. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en na Jerusalem toe vlug.
19. So het die noordelike stamme van Israel teen die koningshuis van Dawid in opstand gekom. Dit is tot vandag toe nog so.
20. Na die volk van Israel gehoor het dat Jerobeam terug was uit Egipte, het hulle hom na ’n vergadering laat kom en hom koning oor die hele Israel gemaak. Net die stam van Juda het getrou gebly aan die afstammelinge van Dawid.
21. Toe Rehabeam in Jerusalem terugkom, het hy die leër van Juda en Benjamin opgeroep. Daar was 180 000 uitgesoekte soldate wat teen die leër van Israel kon optrek om die koningskap vir hom terug te wen.
22. Maar God het vir Semaja, die man van God, beveel:
23. “Gaan sê vir Rehabeam, die koning van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin en die res van die volk:
24. ‘Dis wat die Here sê: Moenie teen jou bloedverwante, die Israeliete, gaan veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en terug huis toe gegaan soos die Here beveel het.
25. Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en dit sy hoofstad gemaak. Hy het later verhuis en Pniël herbou.
26. Jerobeam het by homself gedink:
27. “Die koningskap kan maklik weer teruggaan na die koningshuis van Dawid. As hierdie volk aanhou om Jerusalem toe te gaan om daar by die tempel van die Here te offer, sal hulle weer vertroue kry in koning Rehabeam van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda.”
28. Op advies van sy raadgewers het die koning toe twee goue beelde van kalwers gemaak. Hy sê toe: “Julle het nou lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel. Hier is die gode wat julle uit Egipte gebring het!”
29. Hy het een kalwerbeeld in Bet-El opgerig en die ander een in Dan.
30. Dit het die volk tot sonde verlei. Die volk het selfs saam in die optog na Dan toe gegaan.
31. Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou, en het mense uit die volk wat nie uit die stam van Levi was nie, as priesters aangestel.