1. Rehabeam het na Sigem toe gegaan waar die hele Israel vergader het om hom tot koning te kroon.
2. Jerobeam seun van Nebat was nog in Egipte waarheen hy vir Salomo gevlug het. Toe hy hiervan hoor, het hy uit Egipte teruggekom.
3. Die leiers van Israel het Jerobeam laat kom en hy het saam met die hele Israel na Rehabeam toe gegaan.
4. “U pa het ons ’n swaar las laat dra,” het hulle gesê. “Verminder tog die arbeidslas wat u pa op ons gelê het sodat die juk wat ons dra ligter kan wees. Dan sal ons u onderdane bly.”
5. Rehabeam het geantwoord: “Gee my drie dae en kom dan terug vir my antwoord.” Die volk het toe teruggegaan.
6. Daarna het koning Rehabeam die ouer mense geraadpleeg wat sy pa Salomo van raad bedien het. “Wat beveel julle aan?” vra hy. “Hoe moet ek die mense antwoord?”
7. Die ouer raadgewers het geantwoord: “As u vandag na die volk luister en hulle tevrede stel met ’n gunstige antwoord, sal hulle altyd u onderdane bly.”
8. Maar Rehabeam het die advies van die ouer raadsmanne verwerp. Hy vra toe raad by die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was.
9. “Wat dink julle moet ek hierdie mense antwoord?” vra hy hulle. “Hulle wil hê dat ek die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”