Numeri 22:3-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Mo’av was uitermate bang vir die volk, want hulle was baie en Mo’av was in angs vanweë die teenwoordigheid van die seuns van Yisra’el.

4. Mo’av sê vir die oudstes van Midyan: “Nou sal hierdie menigte alles oplek rondom ons, soos ’n bees die gras van die veld oplek.” Balak, die seun van Tzippor, was dié tyd koning van Mo’av.

5. Hy het boodskappers gestuur na Bil’am, die seun van B’or, in P’tor wat naby die Rivier (Eufraat) is, in die land van die seuns van sy volk, om hom te roep en te sê: “Let op, daar het ’n volk uit Mitzrayim gekom. Let op, hulle het die oppervlakte van die land toegedek en leef oorkant my.

6. Asseblief, kom daarom, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is te magtig vir my. Miskien sal ek oorwin en ’n slag slaan en hulle uit die land verdryf, want ek het opgelet dat die een wat jy seën, geseënd is en die een wat jy vervloek, vervloek is.”

7. Die oudstes van Mo’av en die oudstes van Midyan het vertrek met die waarsêersloon in hulle hand en by Bil’am gekom en vir hom die woorde van Balak gesê.

8. Hy antwoord hulle: “Bly vannag hier oor, dan sal ek vir julle woord bring soos יהוה met my mag praat.” Die heersers van Mo’av het by Bil’am gebly.

9. God het by Bil’am gekom en gesê: “Wie is hierdie manne by jou?”

10. Bil’am het God geantwoord: “Balak, die seun van Tzippor, die koning van Mo’av, het na my gestuur en gesê:

11. ‘Let op, daar het ’n volk uit Mitzrayim gekom en hulle het die oppervlak van die land toegedek. Kom nou, vervloek hulle vir my, miskien sal ek hulle kan oorwin in oorlog en hulle uitdryf.’ “

12. God sê vir Bil’am: “Jy mag nie saam met hulle gaan nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.”

13. Bil’am staan die oggend op en sê vir die heersers van Balak: “Gaan terug na julle land, want יהוה het geweier om my saam met julle te laat gaan.”

14. Die vorste van Mo’av het opgestaan, by Balak gekom en gesê: “Bil’am het geweier om saam met ons te kom.”

15. Balak stuur weer leiers; meer in getal en meer eerbaar as die ander

16. en hulle het by Bil’am gekom en vir hom gesê: “So sê Balak, die seun van Tzippor: ‘Ek smeek jou, laat niks jou verhinder om na my toe te kom nie,

17. want ek sal jou met groot eer vereer en wat jy vir my sê, sal ek doen; daarom kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my.’ “

18. Bil’am antwoord en sê vir die diensknegte van Balak: “Al gee Balak vir my sy huis vol silwer en goud, ek kan niks doen, groot of klein, in teenstelling met die opdrag van יהוה, my God, nie.

19. Nou daarom, bly julle asseblief ook vannag hier sodat ek mag weet wat יהוה verder vir my sal sê.”

20. God het in die nag na Bil’am gekom en gesê: “As die mans dan gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan saam met hulle, maar net die woord wat Ek vir jou sê, dit moet jy doen.”

21. Bil’am het die oggend opgestaan, sy donkie opgesaal en saam met die leiers van Mo’av gegaan.

22. God se woede het gebrand omdat hy gegaan het en die Engel van יהוה het Homself as Teëstander in die pad geplaas. Hy het op sy donkie gery en sy twee diensknegte was saam met hom

Numeri 22