Numeri 10:8-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Die seuns van Aharon, die priesters, moet die trompette blaas en dié moet vir julle ’n ewige instelling in al julle geslagte wees.

9. Wanneer julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat julle aanval, moet julle met die trompette ’n alarm blaas; dan sal julle onthou word voor יהוה, julle God en julle sal van jul vyande verlos word.

10. Ook op die dag van julle oorweldigende blydskap, op julle vasgestelde feeste en by die begin van julle maande moet julle die trompette blaas oor jul brandoffers en oor die offerandes van julle vredesoffers: hulle sal ’n herinnering wees vir julle voor julle God. Ek is יהוה, julle God.”

11. Dit het gebeur dat op die twintigste van die maand, in die tweede maand, in die tweede jaar, die wolk opgelig is van die tabernakel van die Getuienis af

12. en die seuns van Yisra’el het weggetrek uit die wildernis van Sinai op hulle reise en die wolk het tot rus gekom in die wildernis van Pa’ran.

13. So het hulle dan die eerste keer weggetrek volgens die opdrag van יהוה, deur die hand van Moshe.

14. Die banier van die kamp van die seuns van Y’hudah, volgens hulle leërafdelings het eerste weggetrek, met Nagshon, die seun van `Amminadav, oor sy leërafdeling.

15. Oor die leërafdeling van die stam van die seuns van Yissakhar was N’tan’el, die seun van Tzu’ar.

16. Oor die leërafdeling van die stam van die seuns van Z’vulun was Eli’av, die seun van Helon.

17. Die tabernakel is afgebreek en die seuns van Gershon en die seuns van M’rari het weggetrek en die tabernakel gedra.

18. Volgende het die banier van die kamp van Re’uven weggetrek, volgens hulle leërafdelings met Elitzur, die seun van Sh’de’ur, oor sy leërafdeling.

19. Oor die leërafdeling van die stam van die seuns van Shim’on was Shlumi’el, die seun van Tzurishaddai.

20. Oor die leërafdeling van die stam van die seuns van Gad was Elyasaf, die seun van Re’u’el.

21. Toe het die K’hati, die draers van die Afgesonderde plek, weggetrek. Die tabernakel is vir hulle opgeslaan voor hulle aankoms.

22. Volgende het die banier van die kamp van die seuns van Efrayim, volgens hulle leërafdelings, weggetrek met Elishama, die seun van `Ammihud, oor sy leërafdeling.

23. Oor die leërafdeling van die stam van die seuns van M’nasheh was Gamli’el, die seun van P’dahtzur.

24. Oor die leërafdeling van die stam van die seuns van Binyamin was Avidan, die seun van Gid’oni.

25. Toe het die banier van die kamp van die seuns van Dan weggetrek wat, volgens hulle leërafdelings, die agterhoede vir al die leërs was; met Agi’ezer, die seun van `Ammishaddai oor sy leërafdeling.

Numeri 10