22. Toe sê Farao vir hom: “Maar wat het jy by my tekort, let op, dat jy begeer om na jou eie land te gaan?” Hy antwoord: “Niks nie; nogtans moet u my sekerlik laat gaan.”
23. God het ook ’n ander teëstander teen hom opgewek, Rezon, die seun van Elyada, wat gevlug het van sy meester Hadad’ezer, die koning van Tzovah.
24. Nadat Dawid hulle by Tzovah gedood het, het hy manne by hom versamel en leier van ’n plunderbende geword en hulle het na Dammesek gegaan en daar gebly en in Dammesek geheers.
25. Hy was ’n teëstander van Yisra’el al die dae van Shlomo, saam met die boosheid wat Hadad gedoen het en hy het Yisra’el verafsku en oor Aram geheers.
26. Toe het Yarov’am, ’n dienskneg van Shlomo, die seun van N’vat, ’n Efrayimiet uit Tz’redah, wie se moeder se naam Tz’ru’ah was, ’n weduwee, ook teen die koning rebelleer.
27. Dít was die rede hoekom hy teen die koning rebelleer het: Shlomo het Millo gebou en die skeur aan die stad van sy vader, Dawid, toegemaak.
28. Die man Yarov’am was ’n dapper soldaat en toe Shlomo sien dat die jongman ywerig en hardwerkend was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Yosef.
29. Dit het omtrent in daardie tyd gebeur, toe Yarov’am uit Yerushalayim uitgaan dat die profeet Agiyah, die Shiloniet, hom op die pad kry. Agiyah het homself geklee in ’n nuwe mantel en hulle twee was alleen in die veld.
30. Toe gryp Agiyah die nuwe mantel wat hy aangehad het en skeur dit in twaalf stukke.
31. Hy sê vir Yarov’am: “Vat vir jou tien stukke, want so sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Let op, Ek sal die koninkryk uit die hand van Shlomo skeur en aan jou tien stamme gee,
32. maar een stam sal syne wees ter wille van My kneg Dawid en ter wille van Yerushalayim, die stad wat Ek gekies het uit al die stamme van Yisra’el
33. omdat hy My verlaat en hom neergebuig het voor `Ashtoret, die godin van die Tzidoniërs, voor K’mosh, die god van Mo’av en voor Milkom, die god van die seuns van `Ammon en nie geleef het op My maniere deur te doen wat reg is in My oë, om My instellings en My opdragte, soos sy vader, Dawid, na te kom nie.