24. Maar die Israeliete het hulle gewen en baie van hulle soldate doodgemaak. Hulle het hulle land ingeneem van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier wat die grens van Ammon is. Hulle het egter nie probeer om verder te gaan nie, want hierdie grens is deur baie soldate opgepas.
25. Die Israeliete het al die stede van die Amoriete in hierdie gebied verslaan en daarin gaan bly. Ook Gesbon en sy omringende dorpe is verslaan.
26. Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het teen ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en toe sy hele gebied wat tot by die Arnonrivier strek, by hom afgevat.
27. Dit is oor hierdie oorwinning wat die digters vroeër ’n lied geskryf het:“Kom na Gesbon toe en bou dit weer op, herstel koning Sihon se stad!
28. “Hier van Gesbon van koning Sihon se stad af het die aanval soos ’n verwoestende veldbrand versprei. Dit het die stad Ar in Moab totaal verteer wat die Arnonhoogtes beheer het.
29. “Siestog, julle arme Moabiete! Die einde is vir julle in sig, maar julle wou mos op die god Kemos vertrou! “Maar Kemos het julle seuns aan hulle eie lot oorgelaat en nou is hulle vlugtelinge. Al julle dogters het hy deur die Amoritiese koning Sihon laat vang.
30. Ons het hulle heeltemal uitgeroei van Gesbon af tot by Dibon. Ons het alles vernietig tot by Nofag en Medeba.”
31. Die Israeliete het in die Amoriete se land gaan bly.
32. Moses het mense gestuur om te gaan kyk of dit moontlik was om die stad Jaser te oorrompel. Daarna het hulle die stad aangeval en dit saam met al die dorpe in die omgewing ingeneem en die Amoriete verdryf wat daar gebly het.
33. Daar het hulle van koers verander en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het sy leër bymekaargekry en hulle aangeval. Die geveg het by Edreï plaasgevind.
34. Maar die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie, want Ek gee hom met sy hele leër en sy land in julle mag oor. Doen presies met hom wat jy met koning Sihon van die Amoriete gedoen het wat daar in Gesbon gebly het.”
35. Die Israeliete het hulle toe verslaan. Hulle het koning Og, sy seuns en al sy mense doodgemaak. Hulle het ook sy land ingeneem.