Numeri 15:15-16-26 Die Boodskap (DB)

2-3. “As julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee om in te bly en julle wil brandoffers en slagoffers vir My bring, is daar sekere voorwaardes wat julle moet nakom. So ’n offer mag ’n vrywillige offer wees, of ’n offer omdat iemand ’n belofte aan My gemaak het, of selfs ’n offer wat julle by een van die feeste vir My wil bring. So ’n offer moet dan ’n dier uit julle kuddes wees, ’n bees of een van julle kleinvee. Dit is al wat Ek sal aanvaar.

4. Die persoon wat so ’n offer vir My bring, moet daarmee saam ook vir My ’n graanoffer bring, wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel, gemeng met ’n liter olyfolie.

5. Saam met elke lam wat as ’n brandoffer of ’n slagoffer aan My geoffer word, moet julle ook ’n liter wyn as drankoffer saambring.

6. “As dit ’n ram is wat geoffer word, moet die graanoffer bestaan uit drie kilogram meel gemeng met een en ’n half liter olyfolie,

7. en een en ’n half liter wyn wat as ’n drankoffer saamgebring moet word. Dan sal die offer se geur vir My aanvaarbaar wees.

8. “As dit ’n jong bul is wat as brandoffer of ’n ander diereoffer vir My aangebied word om ’n belofte na te kom wat aan My gemaak is, of as ’n eteoffer,

9. dan moet die graanoffer wat daarmee saamgaan, bestaan uit vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olyfolie.

15-16. Vir almal wat ’n offer wil bring, geld presies dieselfde reëls. Hierdie reëls bly ook in die toekoms geldig vir Israeliete en die persone van ’n ander afkoms wat by julle bly.”

17. Die Here het verder vir Moses gesê:

18. “As julle in die land Kanaän aankom

19. en julle eet brood van die graan wat julle daar geoes het, moet julle onthou om vir die Here ’n offer te bring.

20. Van die heel eerste growwe meel wat julle maal om brood te bak moet julle vir die Here ’n brood bak as ’n spesiale geskenk van dank vir die oes wat Hy julle gegee het. Dit is julle offer wat van die dorsvloer af kom.

21. Hierdie gebruik om die eerste growwe meel van die oes aan My te offer moet ook in die toekoms deur julle kinders nagekom word.”

22. “Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie.

23. Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie.

24. Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe.

25. Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf.

26. Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly.

Numeri 15