Numeri 14:32-43 Die Boodskap (DB)

32. Maar julle sal in hierdie woestyn doodgaan en julle geraamtes sal hier agterbly.

33. Julle kinders sal vir 40 jaar in die woestyn rondtrek soos herders op soek na weiveld. Hulle sal die gevolge van julle ongehoorsaamheid aan My moet dra totdat julle hele geslag hier in die woestyn dood is.

34. Omdat julle verspieders 40 dae lank in die land was om dit deur te kyk, sal julle nou vir julle straf ’n volle 40 jaar lank in die woestyn rondtrek. Vir elke dag wat hulle daar was, sal julle een jaar lank die gevolge van julle sonde moet dra. Dan sal julle agterkom hoe dit voel om My as julle vyand te hê.

35. Ek belowe julle, Ek gaan al hierdie dinge laat gebeur met hierdie slegte klomp mense wat teen My in opstand gekom het. Hulle sal almal hier in die woestyn doodgaan. Ek, die Here, sê dit!”

36-37. Die Here het toe die tien spioene wat die volk met hulle bangmaakstories om die bos gelei en teen Hom in opstand laat kom het, net daar laat doodgaan. ’n Vreemde siekte het hulle dood veroorsaak.

38. Van al twaalf spioene het net Josua en Kaleb oorgebly.

39. Toe Moses die Here se woord aan die volk oorgedra het, het hulle verskriklik begin huil van skok en spyt.

40. Vroeg die volgende oggend het hulle kamp opgebreek en na die berge noord van hulle begin trek met die idee om die land van daar af in te neem. Hulle het besluit om op te trek na die land toe wat die Here beloof het.

41. Moses het hulle probeer keer en vir hulle gevra: “Waarom wil julle al weer nie na die Here luister nie? Julle gaan nie regkry wat julle beplan nie.

42. Moenie die land probeer inneem nie, want die Here keur nie julle planne goed nie. Daarom is Hy nie by julle nie. Julle vyande gaan julle platloop.

43. Die Amalekiete en Kanaäniete wag vir julle. Hulle gaan julle doodmaak. Die Here is nie saam met julle in die geveg nie, julle het dan die rug vir Hom gedraai.”

Numeri 14