Lukas 12:7-24 Die Boodskap (DB)

7. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.

8. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is.

9. Maar aan die ander kant, as julle tussen ander mense maak of julle My nie ken nie, sal Ek presies dieselfde met julle doen. Dan sal Ek ook daar voor die engele maak of Ek julle nie ken nie.

10. “Weet julle, daar is niks wat mense aan My kan doen of oor My kan sê wat so sleg is dat God hulle dit nie kan vergewe nie. Maar daar is wel een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense die rug draai vir die Heilige Gees se werk. Wanneer die Gees aan die werk is en mense sê dis die duiwel wat aan die werk is, is hulle in baie groot moeilikheid by God. Hy sal hulle dit nooit vergewe nie.

11. “Wanneer die mense julle baie sleg behandel omdat julle my volgelinge is, moet julle nie moed opgee nie. As hulle julle voor die hof sleep of voor allerhande hooggeplaastes, hoef julle julle nie te bekommer hoe julle julle gaan verdedig nie. Los maar die advokate en die prokureurs uit. Die Heilige Gees sal persoonlik daar by julle wees om julle te verdedig.

12. Wanneer julle beurt kom om iets te sê, sal die Gees vir julle al die regte woorde gee wat julle moet sê.”

13. Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.”

14. “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord.

15. Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie.

16. Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het.

17. Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’

18. “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet.

19. Ek kan myself op die skouer klop en sê: Mooi so! Jy het nou so baie geld en besittings dat jy dit nooit kan uitleef nie. Gaan geniet nou jou lewe. Hou partytjie. Gee jou oor aan drank en plesier. Doen net wat jy wil. Jy verdien dit mos.’

20. “Maar hierdie ryk man het ’n verskriklike groot fout gemaak. Hy het God buite rekening gelaat. Op daardie selfde dag nog het God vir hom gesê: ‘Jou arme dwaas! Vannag nog sal jy doodgaan. En wat word dan van al jou baie besittings? Jy kan dit tog nie saam met jou na die doderyk toe vat nie.’

21. “Weet julle, so gaan dit met almal wat die verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewens eerder aan God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe lewe op julle.”

22. Daarna het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle van vroeg tot laat te loop en bekommer. Julle wonder gedurig: ‘Waar gaan ons geld kry om kos te koop?’ of: ‘Hoe gaan ons geld vir klere in die hande kry?’ Dié dinge is tog nie die belangrikste in die lewe nie.

23. Die lewe gaan oor baie meer as dit. Kyk net ’n bietjie om julle, dan sien julle wat Ek bedoel.

24. “Kyk maar net na die voëls. Hulle het nie groot lande waar hulle hul kos aanplant nie. Daar is ook nie groot bêreplek vir kos in hulle neste nie. En tog gaan slaap hulle nooit een aand honger nie. God sorg vir hulle. Besef julle nie dat julle vir God baie meer werd is as al die voëls nie?

Lukas 12