Levitikus 15:16-29 Die Boodskap (DB)

16. “As ’n man saad gestort het, moet hy sy hele lyf was. Hy is vir die Here onaanvaarbaar vir die res van die dag.

17. Enige klere of stuk leer waarop sy semen beland het, moet gewas word. Dit kan vir die res van die dag nie weer gebruik word nie.

18. Na ’n man en ’n vrou saam geslaap het, moet al twee hulleself was. Hulle mag vir die res van die dag nie by die Here se tent kom nie.”

19. “Wanneer ’n vrou menstrueer, mag sy vir sewe dae nie by die Here se tent kom nie. As iemand aan haar raak, mag hy ook nie by die Here se tent kom vir die res van die dag nie.

20. Enigiets waarop sy slaap of waarop sy sit terwyl sy menstrueer, kan nie verder gebruik word nie.

21-22. Enigeen wat aan die bed raak waarop sy slaap of aan iets vat waarop sy gesit het, moet sy klere en homself gaan was. Hy mag self vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie.

23. Selfs al vat hy net aan iets wat op haar bed of haar stoel gelê het, mag hy nie naby die Here kom nie.

24. As ’n man gedurende haar maandstonde by haar slaap, affekteer dit hom ook en mag hy vir sewe dae nie naby die Here se tent kom nie. Selfs die bed waarop hy dan slaap, word ook onbruikbaar.

25. “As ’n vrou ongereeld is en buite haar gewone tyd menstrueer, of dit hou tydens die normale tyd buitengewoon lank aan, is sy vir hierdie tyd ook uitgesluit.

26. Soos tydens haar menstruasie is enige bed waarop sy lê en enige stoel waarop sy sit, in hierdie tyd ook onbruikbaar.

27. Enigeen wat daaraan vat, moet wegbly van die Here se tent. Hy moet sy klere en homself gaan was. Hy mag vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie.

28. “Sodra sy ophou bloei, moet sy sewe dae aftel. Daarna kan sy weer by God se tent kom.

29. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of enige ander duiwe saamvat na die ingang van die tent waar God hulle ontmoet.

Levitikus 15