3. Die gelowiges het toe klaar gevas en gebid en daarna het hulle hulle hande op Barnabas en Saulus gesit om hulle aan die Here op te dra. Daarop het die gelowiges van hulle afskeid geneem.
4. Die Heilige Gees het Saulus en Barnabas Seleukië toe gestuur. Daarvandaan het hulle per skip na die eiland Siprus gevaar. Johannes Markus het ook saam met hulle gegaan.
5. In Salamis het hulle begin om God se woord in die godsdienstige bymekaarkomplekke van die Jode bekend te maak. Hulle het die eiland van hoek tot kant deurkruis.
6. Met hulle aankoms by Pafos het hulle ’n Joodse towenaar raakgeloop. Sy naam was Barjesus. Hy het gemaak of hy ’n boodskapper van God was. Die goewerneur, Sergius Paulus, ’n baie intelligente man, het die wêreld van hom gedink.
7. Goewerneur Sergius Paulus het van Barnabas en Saulus te hore gekom en hulle laat haal. Hy wou persoonlik by hulle hoor wat hulle oor God te sê gehad het.
8. Elimas (dit is Barjesus se Griekse naam) was nie baie bly daaroor nie. Hy het die goewerneur probeer keer om na hulle te luister, want hy wou nie hê dat Sergius Paulus ’n Christen moes word nie.
9. Toe Saulus (of Paulus, soos hy ook bekend was) by Sergius Paulus aankom, was Elimas ook daar. Paulus was vol van die Heilige Gees se krag. Hy het Elimas waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Ek sien dat jou lewe die ene boosheid is.