11. Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’
12. Julle moet al hierdie dinge vir Pa gaan vertel. Julle almal en ook Benjamin het self gesien dat ek leef en dat dit ek is wat met julle praat.
13. Sê vir Pa ek is onderkoning en vertel hom van al die wonderlike dinge wat julle hier gesien het. Julle moet reguit huis toe gaan en vir Pa gaan haal.”
14. Josef het Benjamin toe omhels en begin huil. Benjamin het Josef ook omhels en op sy skouer gehuil.
15. Toe het hy al sy broers omhels en hulle gesoen. Josef was baie bewoë. Die broers het tot verhaal gekom en met Josef begin praat.
16. Gou het die goeie nuus van Josef se broers versprei en die farao het dit ook gehoor. Hy en al sy mense was baie bly daaroor.
17. Die farao het Josef toe laat kom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou broers sê hulle moet die diere pak en reguit Kanaän toe gaan.
18. Hulle moet jou pa en hulle families vat en sonder versuim na Egipte toe terugkom. Ek sal hulle die beste deel van die land gee. Daar kan hulle lekker bly en daar sal altyd volop kos vir almal wees.”
19. Die farao het voortgegaan: “Jou broers moet ook van ons Egiptiese waens saamneem sodat hulle die vroue en kinders daarop kan laai. Jou pa moet hulle ook op ’n wa sit en dan gou terugkom.
20. Al hulle besittings kan hulle maar daar los, want die beste van Egipte wag hier vir hulle.”
21. Die broers het toe gemaak soos die farao gesê het. Josef het hulle die Egiptiese waens gegee asook genoeg kos vir die pad.
22. Vir elke broer het Josef ook nuwe klere gegee. Benjamin het meer gekry. Josef het vir hom 300 stukke silwer gegee asook vyf pakke nuwe klere.
23. En vir sy pa het Josef sommer ’n klomp goed gestuur: tien swaargelaaide donkies met die allermooiste goed uit Egipte. Op tien donkiemerries was daar genoeg graan, brood en ander kos vir sy pa se reis na Egipte.
24. Josef het sy broers gegroet en vir hulle gesê: “Gaan nou reguit Kanaän toe en moenie op pad aan’t stry raak nie!”
25. Die broers is daar weg en het die kortste pad Kanaän toe gevat. Hulle wou so gou moontlik by hulle pa, Jakob, uitkom.
26. By die huis aangekom, het hulle dadelik vir Jakob gaan sê: “Pa, Josef leef nog! En hy is die man wat oor die hele Egipte regeer.” Jakob was stomgeslaan en wou hulle eers nie glo nie.