14. Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot?
15. Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem.
16. Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.”
17. Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur.
18. Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het.
19. Hulle het ongemerk weggekom, want Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Voor hulle weg is, het Ragel egter stilletjies haar pa se huisgode gaan steel.
20. Jakob het Laban, die Arameër, so om die bos gelei dat hy niks vermoed het nie.
21. Jakob kon dus maklik met al sy besittings wegkom. Hulle was gou oor die Eufraatrivier en het in die rigting van Gilead se berge getrek.
22. Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend.
23. Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg.
24. God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.”
25. Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan.
26. Laban het na Jakob toe oorgestap en vir hom gesê: “Wat het jy aangevang? Jy het my bedrieg en my dogters weggeneem asof hulle krygsgevangenes is.
27. Hoekom het jy alles so in die geheim gedoen? Hoekom het jy my om die bos gelei? Hoekom het jy my niks gesê nie? As ek vooraf geweet het, kon ek julle ten minste met feesmusiek, met tamboeryne en liere, laat weggaan het.
28. Waarom het jy my nie toegelaat om my kleinkinders te groet nie? En my eie dogters totsiens te soen nie? Nee, werklik, Jakob, jy het dom opgetree.
29. Kyk, ek kan julle natuurlik almal vernietig, maar die God van jou pa het my gekeer. ‘Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie,’ het Hy gesê. ‘Dink nou mooi wat jy vir Jakob gaan sê.’
30. Goed, gaan dan maar. Jy verlang mos nou huis toe, so, gaan maar.” Laban het hom egter nog ’n laaste vraag gevra: “Vir wat het jy my huisgodjies gesteel?”