Esegiël 46:1-9 Die Boodskap (DB)

1. So sê die Here, Esegiël se God: “Die ingang aan die oostekant van my huis moet vir ses dae gesluit wees. Maar op die sewende dag, wat vir My opsy gesit is en waarop julle moet rus, en op dae wat julle feesvier, moet die ingang oopgesluit word.

2. Dan mag die regeerder van die volk by hierdie ingang ingaan. Hy moet by die deur gaan staan. Die mense wat in die huis van die Here werk, moet die offers wat hy gebring het, gaan offer. Hy staan daar en aanbid die Here in die ingang. Daarna moet hy omdraai en weer uitgaan op dieselfde pad waarmee hy ingekom het. Die ingang moet nie gesluit word nie totdat die son sak.

3. Die mense van die land moet ook só maak. Hulle moet op die feesdae voor hierdie ingang kom staan en die Here op die sewende dag aanbid.

4. “Elke sewende dag, wat vir My eenkant gesit word, moet die regeerder van die land ’n offer bring van ses lammetjies en een ram. Hierdie diere mag nie gebreklik wees nie.

5. Hy bring ook sestien kilogram meel wat saam met die ram voor My verbrand moet word. Hy kan self kies hoeveel meel hy saam met elke lammetjie wil verbrand. Hy moet ook vier liter olyfolie by elke sestien kilogram meel sit.

6. Op die fees wat julle vier omdat dit nuwemaan is, moet hy ’n bul as offer bring. Hy moet ook ses lammers en ’n skaapram bring. Geen dier mag gebreklik wees nie.

7. Saam met die offers moet hy meel bring, sestien kilogram meel saam met die bul en die ram. En soveel meel as wat hy kan bekostig saam met die lammers. En vir elke sestien kilogram meel wat hy bring, moet hy vier liter olyfolie bysit.

8. “As die regeerder na my huis toe kom, moet hy dieselfde ingang gebruik. Hy moet ook weer daar uitgaan.

9. Maar wanneer die mense wat in die land bly op dae wat julle feesvier in my huis wil inkom, moet hulle deur die ingang aan die noordekant gaan. Daar moet hulle My aanbid. Dan moet hulle weer by die uitgang aan die suidekant uitgaan. En dié mense wat by die suidekant ingekom het, moet weer by die noordekant uitgaan. Niemand mag by dieselfde ingang uitgaan as waar hy ingekom het nie. Almal moet só maak.

Esegiël 46