6. Toe het die man na die hek aan die oostekant van die huis van die Here gegaan. Hy het met die trap opgeklim en toe meet hy die drumpel. Dit was ook drie meter breed.
7. Binne-in die poort was daar plek waar die wagte kon sit, aan weerskante van die ingang. Elke vertrek waar die wagte gesit het, was drie meter by drie meter groot. Die muur tussen die twee vertrekke was twee en ’n half meter dik. Aan die binnekant was daar ’n opening waardeur ’n mens in die huis van die Here kon ingaan. Die begin van die portaal was ook drie meter wyd.
8. Die man het dit gemeet en gesien dat dit drie meter breed was.
9. Daarna het hierdie man ook die opening gemeet waardeur ’n mens ingaan na die huis van die Here se terrein. Dit was vier meter by vier meter, en die muur was ’n meter dik.
10. Aan weerskante van hierdie vertrek was daar drie kamers. Hierdie kamers was ewe groot. Die mure tussen die kamers was ewe dik.
11. Die man het toe ook hierdie opening gemeet. As die hek oop was, was die ingang vyf meter breed. Die volle lengte van die opening was ses en ’n half meter wyd met die hek toe.
12. Voor die kamers aan die kante was daar afskortings. Hulle was elkeen ’n halwe meter dik. Die kamers was drie meter by drie meter.
13. Toe het die man ook die wydte van die hele gebou gemeet waardeur ’n mens gaan as jy in die huis van die Here se terrein wil kom. Dit was van die kamers aan die een kant tot by die kamers aan die ander kant. Die afstand was twaalf en ’n half meter. Die kamers se ingange was regoor mekaar.
14. Die man het toe ook die opening gemeet waardeur ’n mens gaan. Die afstand van die opening tot agter die gebou waardeur ’n mens moet gaan, was 30 meter.
15. Hy het ook die afstand gemeet van voor die opening tot by die buitenste gebou, en dit was 25 meter.
16. Agter in die kamers was daar vensters gebou wat met houthortjies toegemaak het. In die opening was daar ook vensters. Teen die mure van al hierdie vertrekke het mense prente van palmbome geteken.
17. Toe vat die man my na die buitenste opening waardeur ’n mens gaan. Rondom hierdie opening was daar ook vertrekke. Die vloer was van plaveiselstene. Daar was 30 vertrekke.
18. Die plaveiselstene was aan weerskante van die opening, en hulle was net so breed as wat hulle lank was. Hierdie plaveiselstene was aan die onderkant van die vertrek.
19. Die man het toe die afstand gemeet van die voorkant van die eerste opening en die voorkant van die ingang. Dit was 50 meter aan die een kant en 50 meter aan die ander kant.
20. Daarna het hy ook die lengte en breedte gemeet van die ingang aan die buitekant, die ingang wat na die noordekant kyk.
21. Hierdie ingang het drie kamers aan elke kant gehad. Die afmetings was dieselfde as die afmetings van die ander kamers. Hierdie ingang was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
22. Sy vensters en ingang en die tekeninge van palmbome het nes dié gelyk van die ander ingang. ’n Mens moes ses trappe klim om hierdie ingang te bereik. Agter was nog ’n ingangsportaal.