24. Daarna vat die man my na die suidekant toe. Hier was ook ’n ingang met net sulke geboue as by die ander twee ingange. Die man het hulle ook gemeet, en dit was presies dieselfde as die ander geboue.
25. Ook hier was vensters, en die opening was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
26. Daar was ook sewe trappe wat jy moet opklim om by die ingang te kom. En agter was ook ’n ingangsportaal. Teen die mure was daar ook prente van palmbome.
27. Aan die suidekant was daar ook ’n ingang met ’n gebou teen die huis van die Here se kant. Die man het die afstand tussen die buitenste ingang en die binneste ingang gemeet. Dit was 50 meter.
28. Daarna het hy my na die binneste ingang van die suidelike toegang geneem. Hy het hierdie opening gemeet. Dit was dieselfde as die ander ingange tot die huis van die Here se terrein.
29. Ook die kamers aan die kante en die ingangsportaal was presies net so groot soos die ander ingange tot die huis van die Here se kamers en portale. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters in gehad, en dit was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
30. Elke ingang het ’n ingangsportaal gehad na die binneste opening toe. Hierdie portaal was twaalf en ’n half meter lank en twee en ’n half meter wyd.
31. Die ingang het ook ’n ingangsportaal na die buitekant gehad. Daar was tekeninge van palmbome teen die mure. En daar was agt trappe wat jy moes opklim om by die ingang uit te kom.
32. Daarna het die man my na die oostekant toe geneem, na die ingang daar. Hy het hierdie ingang gemeet. Dit was net so groot soos die ander ingange.
33. Die kamers en die mure en die ingangsportaal was ook net so groot soos in die ander ingange. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters gehad. Dit was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
34. Die gebou het ook ’n ingangsportaal na die buitekant toe gehad. Teen die mure was daar tekeninge van palmbome. ’n Mens moes agt trappe klim om by die ingang te kom.
35. Daarna het die man met my na die noordekant toe gegaan en dit gemeet. Dit was presies net soos die ander drie ingange.
36. Daar was ook kamers en mure en ingangsportale, en vensters reg rondom. Die gebou was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
37. Sy ingangsportaal was na die buitekant toe, met palmbome teen die mure geverf en agt trappe waarteen jy moet opklim.
38. Daar was ’n ekstra vertrek wat hier gebou is met ’n opening na die ingangsportaal. Hier is die brandoffers afgespoel wat op die altaar verbrand is.
39. In die ingangsportaal was daar twee tafels aan weerskante teen die muur. Hierop is die diere geslag wat verbrand word sodat die Here mense se slegte dade kan vergewe.
40. Buitekant die ingangsportaal was daar ook twee tafels, en aan die ander kant van die ingangsportaal ook.
41. So was daar agt tafels in totaal. Die diere wat geoffer word, is hier afgeslag.
42. Daar was ook vier tafels wat van klip gemaak is. Elkeen van dié tafels was ’n driekwart meter by ’n driekwart meter en ’n half meter hoog.
43. Bokant die tafels was daar rakke. Hier is die messe en ander gereedskap gebêre waarmee die diere afgeslag is.
44. Buite die ingangsportaal was kamers waar die mense kon bly wat in die huis van die Here musiek gemaak het. Die vertrekke was by die ingang aan die noordekant en het suid gekyk. Teen die ingang aan die oostekant was daar ook ’n kamer, wat noord gekyk het.