8. Die mense van Egipte sal dan besef dat dit Ek was wat hulle land aan die brand gesteek het en al die nasies wat Egipte gehelp het, ook uitgeroei het.
9. Daardie tyd stuur Ek boodskappers wat in vinnige skepe kom. En hulle sal die Etiopiërs wat rustig woon, die skrik op die lyf gaan jaag. Almal sal paniekbevange rondhardloop daardie dag as Ek Egipte finaal vernietig.”
10. Want so sê die Here, die God van Esegiël: “Ek gebruik koning Nebukadnesar van Babilonië om al die baie mense van Egipte te vernietig.
11. Hy en al sy soldate word gestuur om die land tot op die grond te verwoes. Sy soldate het geen genade vir mens of dier nie. Hulle sal Egipte aanval. En hulle sal die mense van Egipte doodmaak totdat die hele land vol lyke lê.
12. Ek laat selfs die Nyl opdroog sodat dit geen water meer het nie. En Ek gee die land in die hande van slegte mense. Hulle sal die land verwoes, en almal wat daar bly, doodmaak. Ek gebruik mense van vreemde lande om dit te doen. Luister mooi! Dit is Ek, die Here, wat nou aan die woord is.”
13. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek slaan die afgodsbeelde van Egipte stukkend. Al die beelde van afgode wat opgerig is by die hoofstad, Memfis, breek Ek in stukke. Daar sal niemand meer in Egipte oor wees om oor die land te regeer nie. Geen wet sal meer geld nie.
14. Ek vernietig al die groot en belangrike stede, Patros en Soan en No. Daar sal net ruïnes oorbly van hierdie pragtige stede. Ek verbrand hulle in my woede.
15. Ek slaan die sterkste stad in Egipte, Sin, met my vuis plat, so kwaad is Ek vir Egipte. En Ek trap die soldate plat wat in die kwartiere in No bly, sonder genade.
16. Ek brand die hele Egipte tot op die grond af. Die mense wat in Sin bly, sal krul van die pyn wat hulle gaan tref. Ek skeur die mense van No uitmekaar. En Ek sal die mense van Memfis helder oordag aanval.
17. Die jongmense wat in Awen en Pi-Beset bly, sal in die oorlog doodgemaak word. En die vroue sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.
18. In Tagpanes sal die son in die middel van die dag ondergaan, so donker sal dit word. Want Ek sal Egipte verwoes. Hy sal geen mag meer hê nie. “Egipte het gedink hy is so sterk. Hy het oral geloop en spog oor hoe sterk hy is. Daardie dag sal Ek sy mag breek. Dit sal lyk of donker onweerswolke oor die land opgekom het, die dag as die mense van die land as gevangenes weggevat word.