Esegiël 18:14-23 Die Boodskap (DB)

14. “Maar sê nou hierdie slegte seun het op sy beurt ook ’n seun. Hierdie seun sien watter slegte lewe sy pa lei en hy besluit om ’n ander koers in te slaan.

15. Hierdie seun weier om voor afgode te buig. Hy slaap nie by ’n ander man se vrou nie.

16. Hy besteel nie arm mense nie en hy behandel mense wat hom geld skuld, altyd goed. Hy gee kos vir mense wat honger is en klere vir mense wat koud kry.

17. Hy help arm mense en leen nie sy geld teen buitensporig hoë rentekoerse aan ander uit nie. Hy doen alles wat Ek vir die mens gesê het om te doen. Hierdie seun sal nie vir sy pa se slegte dade gestraf word nie. Ek sal hom laat lewe.

18. Maar die pa sal doodgemaak word vir die baie slegte dade wat hy gedoen het. Hy was wreed teenoor mense en hy het sy eie familielede bedrieg en besteel.”

19. “Nou sê jy: ‘Maar ’n kind moet ook mos vir sy pa se slegte dade betaal! Hy moet net soos sy pa gestraf word!’ Nee! Nooit nie. As die kind reg doen, sal hy lewe. Hy doen wat Ek sê.

20. Die een wat die slegte dade doen, sal self en alleen gestraf word daarvoor. Hy sal doodgemaak word. Daarvoor sal Ek sorg. ’n Kind word nie doodgemaak omdat sy pa slegte dinge gedoen het nie, en ’n pa en ma word nie gestraf omdat hulle kind slegte dinge gedoen het nie. Mense wat reg doen, sal die loon daarvoor kry. En mense wat sleg optree, sal gestraf word daarvoor.

21. Maar as slegte mense die slegte ophou doen en omdraai en agter My begin aanloop, en hulle doen wat Ek die mens beveel het om te doen, sal hulle lewe. Ek sal hulle nie doodmaak nie.

22. Ek sal vergeet van al die slegte dade wat hulle gedoen het. En hulle sal lewe omdat hulle begin het om goeie dade te doen.

23. “Dink jy dat dit vir My lekker is om slegte mense dood te maak?” Die Here, die God van Esegiël, vra vir jou hierdie vraag. “Natuurlik hou Ek nie daarvan om mense vir hulle slegte dade te straf nie. Ek sal so graag wil sien dat hulle omdraai en agter My aanloop sodat hulle kan bly lewe.

Esegiël 18