5. en vir hulle gesê: “Leviete, luister na my! Maak julleself rein en maak dan die tempel van die Here, die God van julle voorouers, baie goed skoon. Haal al die vieslike goed uit die tempel uit en vat dit weg.
6. Ons ouers was ongehoorsaam aan die Here. Hulle het slegte dinge gedoen wat vir Hom onaanvaarbaar was. Hulle het opgehou om die Here in sy tempel te dien.
7. Hulle het die ingangsdeure van die tempel gesluit, die lampe doodgeblaas, opgehou om wierook te brand en glad nie meer offerdiere in die heiligdom van Israel se God geoffer nie.
8. Daarom het die Here baie kwaad geword vir Juda se mense. Hy het ons tot spot onder al die nasies gemaak, soos julle self beleef.
9. Dít is hoekom ons voorouers in oorloë doodgemaak is en waarom ons seuns, ons dogters en ons vroue gevangenes in ander lande is.
10. Maar nou wil ek ’n ooreenkoms met die Here, die God van Israel, sluit. Ek wil hê Hy moet ophou kwaad wees vir ons.
11. Begin dadelik werk, my seuns! Die Here het julle gekies om vir Hom te werk. Julle moet die erediens lei en tot sy eer wierook brand.”
12. Die volgende Leviete het onmiddellik aan die werk gespring: Uit die Kehatfamilie: Magat, Amasai se seun en Joël, Asarja se seun; uit die Merarifamilie: Kis, Abdi se seun en Asarja, Jehallelel se seun; uit die Gersonfamilie: Joag, Sima se seun en Eden, Joag se seun;
13. uit die Elisafanfamilie: Simri en Jeïel; uit die Asaffamilie: Sagaria en Mattanja;
14. uit die Hemanfamilie: Jegiël en Simi; uit die Jedutungroep: Semaja en Ussiël.
15. Hulle het al die ander Leviete bymekaargemaak. Daarna het hulle hulleself skoongemaak en toe die koning se opdrag uitgevoer: hulle het die tempel presies volgens die reëls van die Here skoongemaak.
16. Die priesters het in die tempel ingegaan en alles skoongemaak. Hulle het die vuil goed uitgebring na die voorhof toe. Daar het die Leviete dit gevat en buite die stad in die Kidronvallei gaan weggooi.