2 Konings 19:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Die Assiriese hoofgesant het intussen teruggegaan na sy koning toe. Hy was nie meer by Lagis nie, maar het die dorp Libna aangeval.

9. Kort daarna het koning Sanherib ’n boodskap gekry dat koning Tirhaka van Etiopië op pad was om hom aan te val. Voordat hy daarop gereageer het, het hy nog gou weer die volgende boodskap vir Hiskia in Jerusalem gestuur:

10. “Dié boodskap is vir koning Hiskia van Juda bedoel: Moenie dat die God op wie jy vertrou jou mislei as Hy jou belowe dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie.

11. Jy weet mos dat die Assiriërs elke land wat hulle aangeval het, oorwin het. Waarom sal dit nou anders wees met julle?

12. Het die gode van die ander volke hulle miskien gered? Dink maar aan Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar! My voorgangers het hulle almal oorwin.

13. Wat het van die konings van Hamat en Arpad geword? Wat het met die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa gebeur?”

14. Toe Hiskia die brief van die boodskappers af kry, het hy dit gelees. Daarna het hy tempel toe gegaan en dit voor die Here oopgesprei.

15. Toe bid hy: “O Here wat die Groot Bevelvoerder is, God van Israel, U regeer oor alles. U is die God van alle koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.

16. Luister asseblief tog na my gebed! Kyk bietjie, Here. Hoor net wat Sanherib alles sê, hoe hy die lewende God beledig!

17. “Dit is natuurlik waar wat hy in sy brief sê, Here: die Assiriërs hét al die volke wat hy noem, oorwin.

18. En hulle hét al die volke se gode omgegooi en verbrand. Maar hulle kon dit doen, want daardie gode is nie regtig gode nie! Daardie gode was sommer afgode wat mense uit hout en klip gemaak het.

19. Ag, Here! Red ons tog uit die koning van Assirië se mag. As U dit doen, sal al die regerings op aarde weet dat U die enigste God is.”

2 Konings 19