4. Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand.
5. Die Here het die koning met ’n velsiekte getref, wat hom tot by sy dood geteister het. Hy het in afsondering in ’n plek van sy eie gewoon. Intussen is sy seun Jotam in bevel van die paleis geplaas en het hy ook die land regeer.
6. Die res van Asarja se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.
7. Na sy dood is hy by die konings van Juda in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.
8. In die 38ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Sagaria, die seun van Jero- beam II, koning in Israel geword. Hy het ses maande lank in Samaria regeer.
9. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.
10. Sallum, die seun van Jabes, het teen Sagaria in opstand gekom en ’n staatsgreep uitgevoer. Hy het Sagaria in die openbaar doodgemaak en in sy plek koning geword.
11. Die res van Sagaria se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.
12. So het die Here se belofte aan Jehu waar geword. Hy het hom beloof dat daar tot in die vierde geslag iemand uit sy nageslag in Israel sou regeer.
13. Sallum, die seun van Jabes, het koning in Israel geword in die 39ste jaar wat koning Asarja van Juda regeer het. Hy het ’n maand lank in Samaria regeer.
14. Menahem, die seun van Gadi, het toe uit Tirsa opgeruk en Sallum in Samaria aangeval. Hy het Sallum doodgemaak en in sy plek koning geword.
15. Die res van Sallum se geskiedenis, insluitend die staatsgreep wat hy uitgevoer het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.