2 Konings 15:15-32 Die Boodskap (DB)

15. Die res van Sallum se geskiedenis, insluitend die staatsgreep wat hy uitgevoer het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

16. In dié tyd het Menahem die dorp Tifsag aangeval. Aangesien hulle nie die poorte wou oopmaak nie, het hy die stad en die hele omgewing tot by Tirsa se mense doodgemaak en die swanger vroue oopgesny.

17. In die 39ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Menahem, die seun van Gadi, koning in Israel geword. Hy het tien jaar lank in Samaria regeer.

18. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

19. Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië Israel in dié tyd aanval, het Menahem hom 34 ton silwer betaal. In ruil sou Tiglat-Pileser Menahem se koningskap in Israel steun.

20. Menahem het die geld in die hande gekry deur die land se ryk mense ’n spesiale belasting te laat betaal. Elkeen was verplig om 570 gram silwer betaal. Ná die betaling het Tiglat-Pileser besluit om nie die land aan te val nie, en is terug na sy eie land toe.

21. Die res van Menahem se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

22. Menahem het gesterf en is deur sy seun Pekahia opgevolg.

23. In die 50ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Pekahia, die seun van Menahem, koning in Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer.

24. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

25. Remalja se seun Peka, wat Pekahia se adjudant was, het ’n staatsgreep teen Pekahia uitgevoer. Hy en 50 soldate uit Gilead het vir Pekahia, Argob en Arje in die paleis in Samaria doodgemaak. Peka het toe in Pekahia se plek koning geword.

26. Die res van Pekahia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

27. In die 52ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Peka, die seun van Remalja, koning in Israel geword. Hy het twintig jaar lank in Samaria regeer.

28. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.

29. In Peka se tyd het Tiglat-Pileser van Assirië Israel weer aangeval. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor ingeneem. Daarby het hy die streke Gilead en Galilea, die hele stamgebied van Naftali, afgeneem en die mense as gevangenes na Assirië weggeneem.

30. Ela se seun Hosea het intussen ’n staatsgreep teen Peka beplan. Hy het hom aangeval en doodgemaak en in sy plek koning geword oor Israel. Dit het gebeur in die twintigste jaar wat koning Jotam van Juda, Asarja se seun, regeer het.

31. Die res van Peka se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

32. In die tweede jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Jotam, die seun van Asarja, koning in Juda geword.

2 Konings 15