1 Samuel 10:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Almal wat hom jare al geken het, kon hulle oë skaars glo toe hy so saam met die profete is en net soos hulle maak. “Wat het met Kis se seun gebeur?” vra hulle vir mekaar. “Hoort Saul dan by die profete?”

12. Iemand daar naby merk toe op: “En wie is nogal hulle leier?” Dit is waar die spreekwoord vandaan kom wat sê: “Hoort Saul dan by die profete?”

13. Toe die profetiese ekstase verby was, het Saul na die offerplek toe gegaan.

14. Saul se oom het vir hom en die werker gevra: “Waar was julle al die tyd?” “Die donkies gesoek,” antwoord hy, “en toe ons sien ons kry hulle nie, het ons na Samuel toe gegaan.”

15. “Sê vir my, wat sê Samuel toe vir julle?” vra sy oom.

16. “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” antwoord Saul. Maar oor die koningskap waarvan Samuel gepraat het, het Saul nie ’n woord gesê nie.

17. Samuel het die volk bymekaargeroep by die Here se altaar in Mispa.

18. Hy het vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek self het julle, die Israeliete, laat wegtrek uit Egipte en Ek het julle vrygemaak van die mag van die Egiptenaars en van al die ander regerings wat julle onderdruk het.’”

19. Verder sê Samuel: “Maar julle, Israeliete, het nou die rug vir God gedraai, dié God wat julle altyd uithelp wanneer daar rampe is en julle moeilikheid het. Julle het mos gesê: ‘Nee, stel ’n koning oor ons aan!’ Kom staan dan nou hier voor die Here volgens julle stamme en families.”

20. Toe Samuel al die stamhoofde van Israel by die altaar laat staan, is die stam van Benjamin geloot.

21. Toe die familiehoofde van die stam van Benjamin na die altaar kom, is die familie van Matri geloot. Uiteindelik is Saul, Kis se seun, geloot. Maar toe hulle hom soek, is hy nie daar nie!

22. Daarop vra hulle vir die Here: “Is die man wat geloot is hier?” Die Here se antwoord was: “Ja, hy kruip tussen die bagasie weg.”

1 Samuel 10