Rigters 6:25-40 Bybel vir Almal (ABA)

25. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet jou pa se bul vat, die bul wat sewe jaar oud is, en dan moet jy die Baäl-altaar van jou pa afbreek en die gewyde paal afkap wat daarby is.

26. Jy moet vir My, jou God die Here, ’n altaar bou op die hoogste plek in hierdie stad. Jy moet die klippe van die altaar netjies opmekaar pak. Jy moet die hout van die gewyde paal wat jy afgekap het, gebruik om vuur te maak, en dan moet jy die bul op die altaar offer.”

27. Gideon het tien van sy slawe geneem en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy was bang vir sy pa se familie en vir die mense van die stad, daarom het hy dit in die nag gedoen, nie in die dag nie.

28. Die mense van die stad het die volgende oggend vroeg opgestaan. En wat het hulle gesien? Iemand het die Baäl-altaar afgebreek en die gewyde paal afgekap en ’n nuwe altaar gebou en die bul ge-offer.

29. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?”Hulle het gesoek en vir almal gevra, en iemand het gesê: “Joas se seun Gideon het dit gedoen.”

30. Toe sê die mense van die stad vir Joas: “Jy moet jou seun bring. Hy moet sterf omdat hy die Baäl-altaar afgebreek het en die gewyde paal afgekap het wat daarby was.”

31. Joas sê toe vir almal wat daar by hom staan: “Wil julle vir Baäl beskerm? Wil julle hom red? Die persoon wat vir Baäl wil beskerm, sal môre sterf. As Baäl ’n god is, dan moet hy homself beskerm teen die man wat sy altaar afgebreek het.”

32. Joas het daardie dag gesê Gideon se naam is nou Jerub-Baäl, want Baäl moet homself beskerm teen Gideon wat sy altaar afgebreek het.

33. Al die Midianiete en die Amalekiete en die Oosmense het bymekaargekom en oor die Jordaan-rivier gegaan. Hulle het hulle tente opgeslaan in die Jisreël-vallei.

34. Toe het die Gees van die Here in Gideon gekom. Hy het die ramshoring geblaas en die familie Abiëser geroep om saam met hom te kom en hom te help.

35. Hy het boodskappers gestuur na die hele Manasse-stam en hy het hulle ook geroep om saam met hom te kom en hom te help. Hy het ook boodskappers gestuur na die Aser-stam en die Sebulon-stam en die Naftali-stam, en hulle het ook na Gideon toe gekom.

36. Gideon het vir God gesê: “U het gesê U wil my gebruik om die Israeliete te red.

37. Ek sal ’n skaap se wol oopgooi op die dorsvloer. As daar net op die wol dou is en die grond is droog, dan sal ek weet U wil my gebruik om die Israeliete te red, soos U gesê het.”

38. Dit het toe gebeur. Toe Gideon die volgende oggend opstaan en die dou uit die wol druk, het daar ’n skottel vol water uit die wol gekom.

39. Maar Gideon het vir God gesê: “U moenie kwaad word vir my nie, ek wil nog een maal iets vra, ek wil U nog een maal toets met die wol. U moet die wol droog laat bly, en môre-oggend moet die dou op die grond wees.”

40. God het dit daardie nag so gedoen. Die wol was droog, en daar was dou op die grond.

Rigters 6