Rigters 15:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. Die Filistyne het hulle tente gaan opslaan in die land Juda en hulle het tot by die stad Legi gekom.

10. Die mense van Juda het vir die Filistyne gevra: “Hoekom wil julle oorlog maak teen ons?”Die Filistyne het gesê: “Ons het gekom om Simson te vang. Ons wil aan hom doen wat hy aan ons gedoen het.”

11. Toe het 3 000 mans van Juda na die Etam-kloof gegaan en vir Simson gesê: “Jy weet die Filistyne regeer oor ons. Hoekom het jy vir ons probleme gebring?”Simson het vir hulle gesê: “Ek het aan die Filistyne gedoen wat hulle aan my gedoen het.”

12. Hulle sê toe vir Simson: “Ons het gekom om jou vas te bind en om jou vir die Filistyne te gee.”Simson het vir hulle gesê: “Julle moet eers belowe julle sal my nie aanval nie.”

13. Hulle het gesê: “Nee, ons wil jou nie doodmaak nie, maar ons wil jou styf vasbind en jou vir die Filistyne gee.”Hulle het hom met twee nuwe toue vasgebind en hulle het hom uit die kloof gebring.

14. Toe hulle met Simson by Legi kom, het die Filistyne geskree en gekom om hom aan te val. Maar die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Hy het die toue maklik gebreek waarmee hulle hom vasgebind het. Die toue het so maklik gebreek soos garing wat brand en dit het afgeval van sy arms.

15. Simson het die kakebeen van ’n donkie gesien en hy het dit gegryp. Die kakebeen was nog nie droog nie, want die donkie was nog nie lank dood nie. Simson het 1 000 Filistyne met die kakebeen doodgeslaan.

16. Daarna het Simson gesê:“Met die kakebeen van ’n donkiehet ek baie van hulleopmekaar laat val,met die kakebeen van ’n donkiehet ek 1 000 mannedoodgeslaan.”

17. Toe Simson dit klaar gesê het, het hy die kakebeen weggegooi en hy het die plek “Kakebeen-hoogte” genoem.

18. Hy was baie dors en hy het tot die Here gebid en gevra: “U het my, u dienaar, laat wen. Wil U nou hê ek moet sterf omdat ek nie water het nie? En wil U hê die Filistyne moet my vang, die Filistyne wat nie u mense is nie?”

19. Daar was ’n gat in die rots by Legi. Die Here het die rots oopgebreek, en daar het water uitgekom. Simson het water gedrink en hy het weer sterk geword. Die fontein is nou nog daar by Legi. Die mense noem dit “Roeper-fontein.”

20. Simson was 20 jaar lank ’n leier van die Israeliete in die tyd toe die Filistyne oor hulle regeer het.

Rigters 15