1. Die Here het vir Moses gesê:
2. “Jy moet met die Israeliete praat en jy moet vir hulle sê: Wanneer ’n man of ’n vrou ’n gelofte maak om ’n nasireër te wees en om homself aan die Here te wy,
3. dan mag hy nie wyn of sterk drank drink nie. Hy mag nie wyn of asyn of sterk drank drink nie. Hy mag ook nie druiwesap drink nie en hy mag nie druiwe eet nie, nie vars druiwe of rosyne nie.
4. In die tyd terwyl hy ’n nasireër is, mag hy niks eet wat van ’n wingerdstok kom nie, ook nie die pitte of die skille nie.
5. Terwyl hy ’n nasireër is soos hy belowe het, mag hy nie sy hare skeer nie. Hy moet gewyd bly. Hy het homself ’n tyd lank aan die Here gewy, en hy moet gewyd bly totdat daardie tyd verby is. Sy hare moet lank word.
6. Terwyl hy aan die Here gewy is, mag hy nie naby ’n lyk kom nie.
7. Ook wanneer dit sy pa of sy ma of ’n broer of ’n suster is wat sterf, mag hy homself nie onrein laat word nie, want sy lang hare wys dat hy aan die Here gewy is.
8. Terwyl hy ’n nasireër is, is hy aan die Here gewy.
9. “Maar wanneer iemand by hom skielik sterf en die nasireër word onrein, dan moet hy sy hare afskeer op die dag wanneer hy weer rein is, dit is op die sewende dag, dan moet hy sy hare afskeer.
10. Op die agste dag moet hy twee tortelduiwe of twee makduiwe na die priester toe bring by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.
11. Die priester moet een duif offer om ’n sonde-offer te wees en die ander duif moet hy offer om ’n brand-offer te wees. Die priester moet versoening doen vir die persoon, want hy was naby ’n lyk en hy moet daardie dag weer gewy word.
12. Hy moet homself weer aan die Here wy vir daardie hele tyd en hy moet ’n jaaroud ram-lam bring om ’n skuld-offer te wees. Die tyd wat verby is, beteken niks, omdat hy onrein geword het.
13. “Die nasireër het homself ’n tyd lank aan die Here gewy, en hy moet gewyd bly totdat daardie tyd verby is. Hierdie is die wet vir die nasireër: Iemand bring hom na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn,
14. en hy bring sy offer vir die Here saam. Die offer is: ’n gesonde jaaroud ram-lam om ’n brand-offer te wees, ’n gesonde jaaroud ooi-lam om ’n sonde-offer te wees, ’n gesonde skaap-ram om ’n ete-offer te wees,
15. en ook ’n mandjie ongesuurde brood wat hulle gemaak het van die beste meel, rondebrood en roosterkoek. Hy moet die rondebrood se deeg meng met olyf-olie en hy moet olyf-olie smeer aan die roosterkoek. Hy bring ook die koring-offers en die drank-offers wat saam met die ander offers moet wees.