22. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. Maar as julle tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God julle red.
23. Wanneer die mense in een stad slegte dinge doen aan julle, dan moet julle na ’n ander stad vlug. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal nog nie klaar wees nie met die werk wat julle moet doen in al die stede van Israel, dan sal Ek kom, Ek, die Seun van die mens.
24. ’n Dissipel is nie belangriker as sy meneer nie. ’n Slaaf is ook nie belangriker as sy eienaar nie.
25. ’n Dissipel moet tevrede wees wanneer dit met hom gaan soos met sy meneer. ’n Slaaf moet tevrede wees wanneer dit met hom gaan soos met sy eienaar. As die mense vir die hoof van die huis sê hy is Beëlsebul, dan moet die mense in sy huis weet dat die mense vir hulle nog slegter dinge sal sê.”
26. “Julle moenie bang wees vir daardie mense nie. God is Koning, niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal dit sien en daarvan weet.
27. Alles wat Ek vir julle in die geheim sê, moet julle vir almal vertel. Ek het baie dinge net vir julle gesê, maar julle moet op die huise se dakke staan en dit vir almal vertel.
28. “Julle moenie bang wees vir mense nie. As hulle julle doodmaak, dan sal dit net julle liggame wees wat dood is. Nee, julle moet net vir God bang wees. As Hy julle in die hel laat brand, dan sal julle waarlik dood wees.
29. “’n Mens kan twee mossies verkoop vir een sent. Hulle is baie goedkoop. Maar nie een van hulle val dood op die grond as julle Vader dit nie wil hê nie.
30-31. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”
32. Jesus het gesê: “As iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek vir my Vader in die hemel ook sê daardie persoon behoort aan My.
33. Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek vir my Vader in die hemel ook sê daardie persoon behoort nie aan My nie.
34. “Julle moenie dink daar sal vrede wees op die aarde omdat Ek gekom het nie. Ek het gekom, maar daar sal nie vrede wees tussen mense nie, hulle sal mekaar se vyande wees.
35. Ek het gekom, en nou sal ’n man teen sy pa wees, ’n dogter teen haar ma, en ’n skoondogter teen haar skoonma.
36. Ja, julle eie familie in julle huise sal julle vyande wees.
37. As iemand meer lief is vir sy pa of sy ma as vir My, dan kan hy nie my dissipel wees nie. As iemand vir sy seun of sy dogter meer lief is as vir My, dan kan hy nie my dissipel wees nie.
38. As iemand My wil volg, dan moet hy lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis hang en sterf. Dan kan hy my dissipel wees.
39. As iemand my dissipel wil wees, maar hy wil aanhou lewe en hy wil nie sterf omdat hy My dien nie, dan sal hy sy lewe verloor. Maar iemand wat sterf omdat hy My dien, sal aanhou lewe.