1. Baie vroeg die Sondag-oggend het die vroue na die graf gegaan. Hulle het lekkerruik-olie gereedgemaak en hulle het dit saamgeneem.
2. By die graf het hulle gesien iemand het die klip voor die graf weggerol.
3. Hulle gaan toe by die graf in, maar sien nie die liggaam van die Here Jesus daar binne nie.
4. Die vroue was baie verbaas daaroor. Skielik het daar twee mans by hulle gestaan, die mans het blink klere aangehad.
5. Die vroue het bang geword en hulle het laag gebuig. Toe sê die mans vir hulle: “Hoekom soek julle die Een wat lewe by die mense wat dood is?
6. Jesus is nie hier nie, God het Hom weer laat lewe. Onthou julle wat Jesus vir julle vertel het toe julle nog in Galilea was?
7. Hy het gesê God sal Hom, die Seun van die mens, vir sondige mense gee om dood te maak, hulle sal Hom kruisig, maar Hy sal op die derde dag weer lewe.”
8. Die vroue het toe onthou dat Jesus dit gesê het.
9. Daarna het die vroue teruggegaan huis toe. Hulle het alles vir die elf apostels en die ander gelowiges vertel.
10. Die vroue wat hierdie dinge gesien het, was Maria Magdalena, Johanna, Maria ma van Jakobus, en die ander vroue wat by hulle was. Toe hulle hierdie dinge vir die apostels vertel,
11. het die apostels gedink die vroue praat nonsens, en hulle het die vroue nie geglo nie.
12. Petrus het opgestaan en hy het na die graf gehardloop. Hy het gebuk en by die graf ingekyk en gesien daar lê net lappe. Hy het teruggegaan en hy was baie verbaas oor wat gebeur het.
13. Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem.
14. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus.
15. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop.
16. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie.
17. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?”Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer.
18. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?”
19. Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?”Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was ’n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet.
20. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig.