Handelinge 22:3-23 Bybel vir Almal (ABA)

3. “Ek is ’n Jood en ek is gebore in die stad Tarsus in Silisië, maar ek het grootgeword hier in Jerusalem. Ek was ’n student van Gamaliël en ek het al die streng wette van ons voorouers geleer. Ek was baie gehoorsaam aan God, soos julle almal wat vandag hier is, ook gehoorsaam is aan Hom.

4. Ek het slegte dinge gedoen aan ‘Die Pad,’ ek het probeer om hulle dood te maak. Ek het mans en vroue laat vang en laat vasbind en ek het hulle in die tronk laat sit.

5. Die hoëpriester en die hele Joodse Raad sal kan sê ek praat die waarheid. Hulle het ook vir my briewe gegee wat ek na die Jode in Damaskus geneem het. Ek het na Damaskus gegaan om die gelowiges te vang en hulle terug te bring na Jerusalem sodat die Joodse Raad hulle kan straf.

6. “Ek was besig om na Damaskus te gaan en ek was naby Damaskus. Toe dit omtrent middag was, het daar skielik ’n groot lig uit die hemel op my geskyn.

7. Ek het op die grond geval. Toe hoor ek Iemand vra vir my: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My?’

8. Ek het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus van Nasaret. Jy doen slegte dinge aan My.’

9. “Die mense wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die Persoon gehoor wat met my gepraat het nie.

10. Ek het gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Jy moet opstaan en jy moet na Damaskus gaan. Daar sal iemand vir jou alles sê wat Ek wil hê jy moet doen.’

11. “Die lig was so skerp dat ek nie kon sien nie. Daarom het die mense wat saam met my gegaan het, my hand geneem en hulle het my gelei tot in Damaskus.

12. “Ananias het in Damaskus gewoon. Hy was lief vir die Here, hy het die Here gedien soos die Here wil hê. Ananias het alles gedoen wat die wette sê, en al die Jode wat in Damaskus woon, het geweet dat hy ’n goeie man is.

13. Ananias het na my toe gekom en hy het by my kom staan. Hy het vir my gesê: ‘Saul, vriend, jy moet weer sien!’ Dadelik kon ek weer sien en ek het na hom gekyk.

14. Ananias het vir my gesê: ‘Die God van ons voorouers het jou gekies om te weet wat Hy wil doen. Hy het jou ook gekies om die Regverdige te sien en sy eie stem te hoor.

15. Ja, God het jou gekies, want jy moet vir al die mense gaan vertel van die dinge wat jy gesien en gehoor het.

16. Jy moenie langer wag nie. Jy moet nou opstaan. Jy moet jou laat doop en jy moet bid tot Christus. Dan sal Hy jou sondes wegneem.’

17. “Toe het ek teruggegaan na Jerusalem. Ek was besig om in die tempel te bid, toe het ek iets gesien, dit was soos in ’n droom.

18. Ek het vir Christus gesien. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gou maak en jy moet vinnig weggaan uit Jerusalem, want die mense van Jerusalem sal nie glo wat jy vir hulle wil vertel van My nie.’

19. En ek het vir Hom gesê: ‘Here, hulle weet self dat ek na al die sinagoges gegaan het, hulle weet dat ek die mense gevang het en geslaan het, die mense wat in U geglo het.

20. En Stefanus was u getuie. Toe die mense vir Stefanus doodgemaak het, het ek self daar gestaan en ek het gesê hulle doen reg. Ek het ook die klere opgepas van die mense wat hom doodgemaak het.’

21. “En Christus het vir my gesê: ‘Jy moet nou gaan, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene toe.’ ”

22. Die Jode het tot hier geluister na wat Paulus sê. Toe het hulle hard begin skree en hulle het gesê: “Julle moet hom wegvat en doodmaak! Iemand soos hy mag nie lewe nie!”

23. Hulle het niks gehou van wat Paulus gesê het nie, hulle het geskree en hulle het party van hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi.

Handelinge 22