11. Die Here sal nou teen jou wees en jy sal blind wees en jy sal ’n tyd lank nie die son kan sien nie.”Elimas het toe dadelik gedink dat dit donker geword het, soos onder ’n wolk, en hy het aangehou soek na mense wat sy hand kan neem om hom te lei.
12. Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy in Jesus geglo, en hy was baie verbaas oor wat die mense oor die Here geleer het.
13. Paulus en sy vriende het met ’n skip weggeseil van die hawe van Pafos en hulle het aangekom by die stad Perge in die provinsie Pamfilië. Johannes het daar weggegaan van hulle en hy het teruggegaan na Jerusalem.
14. Maar Paulus en die ander vriende het van Perge verder gegaan na die stad Antiogië in die provinsie Pisidië. Op die Sabbatdag het hulle in die sinagoge ingegaan en gaan sit.
15. Nadat iemand ’n deel uit die Wette van Moses en ’n deel uit die boeke van die profete gelees het, het die leiers van die sinagoge iemand na Paulus en sy vriende toe gestuur om vir hulle te sê: “Vriende, as iemand van julle iets wil sê om die volk te bemoedig, dan moet julle nou praat.”
16. Paulus het toe opgestaan en hy het met sy hand gewys dat hulle moet stilbly. Hy het gesê:“Israeliete, en julle ander wat vir God respekteer, julle moet luister na wat ek sê.
17. Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers gekies, en toe hulle vreemdelinge in die land Egipte was, het Hy die volk baie meer laat word. Hy het gewys hoe sterk Hy is en Hy het die volk Israel uitgelei uit Egipte.
18. God was omtrent 40 jaar lank baie geduldig met hulle in die woestyn.
19. Toe het God sewe volke in die land Kanaän verwoes en Hy het die land vir die Israeliete gegee om hulle land te wees,
20. omtrent 450 jaar lank. En toe het God leiers gegee om oor hulle te regeer totdat Samuel, die profeet gekom het.
21. En toe het die Israeliete ’n koning gevra, en God het Saul gegee om hulle koning te wees. Saul was die seun van Kis, ’n man uit die Benjamin-stam. Saul was 40 jaar lank koning.
22. En nadat God vir Saul laat ophou het om koning te wees, het Hy vir Dawid gekies en aangestel om koning te wees oor die Israeliete. God het gesê: ‘Ek het gesien dat Dawid, die seun van Isai, ’n man is wat lewe soos Ek wil hê. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’
23. God het vir Israel die Redder Jesus laat kom uit hierdie man se nageslag. Dit is wat God belowe het om te doen.
24. Voordat Jesus met sy werk begin het, het Johannes vir die hele volk Israel gepreek. Johannes het gesê die mense moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop.
25. En toe Johannes aan die einde van sy werk gekom het, het hy baie maal gesê: ‘Wie dink julle is ek? Julle dink ek is die Een wat sal kom, soos God belowe het, maar ek is nie. Later sal daar Iemand kom, en ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.’
26. “Vriende, julle wat die nageslag van Abraham is, en julle ander wat vir God respekteer, God het vir ons hierdie boodskap gestuur dat Hy ons red.
27. Want die mense wat in Jerusalem woon en hulle leiers wou nie glo dat Jesus die Redder is nie. Toe hulle vir Jesus ge-oordeel het, het hulle die woorde waar laat word wat die profete gesê het. Die Jode lees dit elke Sabbatdag in die boeke van die profete.
28. Hierdie mense van Jerusalem en hulle leiers wou vir Jesus laat doodmaak, maar hulle kon nie sê hoekom hulle dit wou doen nie. Hulle het toe vir Pilatus gevra om te sê dat die soldate vir Jesus moet doodmaak.
29. En nadat die Jode en hulle leiers alles gedoen het wat daar in die Ou Testament geskryf is oor Jesus, het vriende van Jesus Hom afgehaal van die kruis en hulle het Hom begrawe.
30. Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe.
31. Jesus het in ’n lang tyd verskillende male verskyn aan die mense wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou Jesus se getuies by die volk.