Genesis 38:3-16 Bybel vir Almal (ABA)

3. Sy het swanger geword en ’n seun gekry. Juda het hom Er genoem.

4. Sy het weer swanger geword en weer ’n seun gekry en sy het hom Onan genoem.

5. Sy het nog ’n seun gekry en sy het hom Sela genoem. Hulle was in Kesib toe haar seun Sela gebore is.

6. Juda het ’n vrou gekies vir sy oudste seun Er. Die vrou se naam was Tamar.

7. Juda se oudste seun Er was ’n slegte man, en daarom het die Here hom laat sterf.

8. Juda het toe vir sy tweede seun Onan gesê: “Gaan slaap by jou broer Er se weduwee sodat sy ’n kind kan kry, want jy is haar swaer. Doen dit sodat daar ’n nageslag vir jou broer kan wees.”

9. Maar Onan het besef dat die nageslag wat uit haar gebore sou word, nie sy nageslag sou wees nie. Hy het seks gehad met sy broer se weduwee, maar elke maal het hy sy saad op die grond laat val. Hy het dit gedoen omdat hy nie vir sy broer ’n nageslag wou laat kry nie.

10. Wat Onan gedoen het, was verkeerd. Die Here was ontevrede daaroor en Hy het vir Onan ook laat sterf.

11. Juda sê toe vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis en bly ’n weduwee totdat my seun Sela groot is.”Juda was bang dat Sela ook sou sterf, soos sy broers. Tamar het in haar pa se huis gaan bly.

12. Ná ’n lang tyd het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Hy het gehuil en getreur oor haar, en toe die tyd verby was toe hy gerou het, het hy na die stad Timna gegaan om sy skape en bokke te gaan skeer. Sy vriend Gira van Adullam het saam met hom gegaan.

13. Die mense het vir Tamar vertel: “Jou skoonpa gaan na Timna om sy skape en bokke te skeer.”

14. Tamar het gesien dat Sela groot geword het, maar Juda het haar nie vir Sela gegee sodat hulle twee kon trou nie.Tamar trek toe haar weduwee-klere uit en maak haar gesig toe met ’n sluier. Sy het haar vermom en gaan sit by die stad Enajim se poort langs die pad wat na Timna gaan.

15. Toe Juda haar sien, het hy gedink dat sy ’n prostituut is, want sy het haar gesig toegemaak met ’n sluier.

16. Hy het by haar gestop en vir haar gesê: “Kom, ek wil asseblief seks hê met jou.”Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie. Tamar vra toe vir hom: “Wat sal jy my betaal?”

Genesis 38