Esegiël 40:19-30 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die man het gemeet hoe ver dit is van die voorkant van die onderste poort tot by die buitekant van die binneste oop stuk grond. Dit was 100 el by die oostekant en by die noordekant.

20. Die man het ook gemeet hoe lank en hoe breed die buitenste noord-poort langs die buitenste oop stuk grond is.

21. Die poort het ook langs elke kant drie kamers gehad, en sy pilare en sy voorportaal was so groot soos die eerste poort. Die poort was ook 50 el lank en 25 el breed. ’n

22. Die vensters en die pilare en die palmbome in hierdie poort was so groot soos die vensters en pilare in die poort by die oostekant. ’n Mens kon teen sewe trappe opgaan in die poort. Daar was ’n voorportaal by die binnekant.

23. Daar was ook ’n poort langs die oop stuk grond by die binnekant, oorkant die noord-poort. Dit was soos die poort oorkant die oos-poort. Die man het gemeet hoe ver die poorte van mekaar is. Dit was 100 el.

24. Toe het hy my na die suidekant laat loop. Daar was die buitenste suid-poort. Die man meet toe die pilare en die voorportaal van die poort, dit was so groot soos die pilare en die voorportaal van die ander poorte.

25. Daar was ook vensters in die poort en in die voorportaal, en die poort was ook 50 el lank en 25 el breed.

26. ’n Mens kon teen sewe trappe in die poort opgaan, en daar was ’n voorportaal by die binnekant. Daar was ook palmbome uitgesny op die pilare by altwee kante.

27. Daar was ’n poort by die suidekant van die binneste oop stuk grond. Die man het gemeet hoe ver dit is van die een poort na die ander poort. Dit was 100 el.

28. Toe neem hy my deur die suid-poort na die binneste oop stuk grond. Toe hy die binneste suid-poort meet, was dit so groot soos die ander poorte.

29. Die kamers en die pilare en die voorportaal was so groot soos die ander kamers en pilare en voorportale. Daar was ook vensters in al die mure. Daar was vensters in al die mure van die poort en die voorportaal. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

30. Elke poort het ’n voorportaal gehad, dit was 25 el lank en vyf el breed.

Esegiël 40