2. “Mens, jy moet opskryf watter dag dit is, presies hierdie datum. Die koning van Babel het Jerusalem vandag aangeval.
3. Jy moet vir hierdie opstandige volk ’n gelykenis vertel. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy moet ’n pot op die vuur sit, jy moet dit opsit en jy moet water daarin gooi.
4. Dan moet jy die stukke vleis in die pot sit, boude en skouerblaaie, jy moet dit volmaak met die beste vleis en bene.
5. Jy moet van die beste skape en bokke neem, jy moet hout onder die pot pak, en jy moet alles kook. Jy moet die vleis en die bene in die pot gaarmaak.”
6. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Waarlik, dit sal sleg gaan met die stad waar baie mense se bloed gevloei het. Die stad is soos ’n pot wat geroes is, die roes kan nie afkom nie. Jy moet elke stuk vleis uithaal, jy moenie uitsoek en kies nie.
7. Want die mense in die stad het mense vermoor, en hulle het die bloed van daardie mense op ’n kaal rots laat bly lê, hulle het nie die bloed op die grond uitgegooi sodat die stof dit kan toemaak nie.
8. Ek het die bloed daar op die kaal rots laat bly waar almal dit kon sien. Die bloed moes My baie kwaad laat word, sodat Ek hulle sal straf.”
9. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Daarom, dit sal sleg gaan met die bloedstad. Ek sal self ’n groot vuur maak.
10. Jy moet baie hout bring, jy moet die vuur aansteek en die vleis gaarmaak. Jy moet speserye by die vleis gooi en jy moet die bene verbrand.
11. Dan moet jy die pot leegmaak en jy moet dit op die vuur laat staan sodat dit baie warm kan word. Doen dit sodat die pot rooiwarm word en alles kan smelt wat die pot onrein maak. Dan sal die roes kan afkom.
12. Iemand wat probeer om die roes af te brand, sal hard probeer en moeg word, maar die roes aan die pot sal nie afkom nie.
13. Jy, Jerusalem, is onrein, jy het slegte dinge gedoen. Dit is die roes aan die pot. Ek wou jou rein laat word, maar jy het nie rein geword nie en jy sal nie rein word nie. Ek is kwaad en Ek sal jou straf.
14. Ek, die Here, het gepraat. Jou straf sal kom, Ek sal dit doen. Ek sal dit nie los nie, Ek sal nie jammer wees vir jou nie, Ek sal nie my plan verander nie. Ek sal jou straf oor die dinge wat jy gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
15. Ek het gehoor die Here sê vir my:
16. “Mens, Ek weet jy is baie lief vir iemand. Ek wil daardie persoon skielik wegneem, maar jy moenie rou en huil nie, jou trane moenie vloei nie.
17. Jy moet saggies kla en sug sodat niemand jou hoor nie, jy moenie huil en treur nie. Jy moet jou tulband op jou kop hou en jy moet jou skoene aan jou voete hou. Jy moenie jou gesig toemaak nie en jy moenie begrafnis-kos eet nie.”
18. Ek het in die oggend met die volk gepraat, en my vrou het daardie aand gesterf. Die volgende oggend het ek gedoen wat die Here vir my gesê het.
19. En toe vra die mense vir my: “Sê asseblief vir ons, wat beteken hierdie dinge wat jy doen, wat beteken dit vir ons?”
20. Ek het toe vir hulle gesê: “Ek het gehoor die Here sê vir my: