14. En ek sal almal wat by die koning is en wat hom help, na al die kante toe jaag, en ook al sy soldate. Ek sal hulle self jaag met my swaard.
15. Hulle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek hulle na al die kante toe jaag tussen die volke in, wanneer Ek hulle oral in ander lande laat woon.
16. Ek sal ’n paar van hulle nie laat sterf in die oorlog of van honger of pes nie, sodat hulle vir die volke waar hulle kom, kan vertel van alles wat hulle gedoen het wat Ek haat. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”
17. Ek het gehoor die Here sê vir my:
18. “Mens, jy moet bewe wanneer jy eet en jy moet bekommerd en ontsteld wees wanneer jy water drink,
19. en dan moet jy vir die mense van die land sê: Die Here, Hy wat Here is, sê vir die mense wat in Jerusalem woon, vir die mense in die land Israel: Julle sal bekommerd wees wanneer julle eet en julle sal baie bang wees wanneer julle water drink.
20. Die stede waar nou mense woon, sal hope klippe word, en daar sal niemand in die land woon nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.”
21. Ek het gehoor die Here sê vir my:
22. “Mens, wat sê die mense van Israel altyd? Hulle sê: ‘Die Here het dinge vir die profeet gewys, maar die tyd gaan verby en niks gebeur wat die Here vir hom gewys het nie.’
23. Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal hulle laat ophou om so te praat. Hulle sal dit nie weer sê in die volk Israel nie. Jy moet vir hulle sê die tyd kom nou nader wanneer alles sal gebeur wat die Here vir sy profeet gewys het.
24. Niemand sal lieg en sê die Here het vir hom iets gewys nie, niemand in die volk Israel sal aanhou sê hy weet dinge wat ander mense nie kan weet nie.
25. Wanneer Ek, die Here, sê dat iets sal gebeur, dan sál dit gebeur. Ek sal dit nie later laat gebeur nie. Opstandige volk, Ek sê vir julle nou dat iets sal gebeur, en Ek sal dit doen.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
26. Ek het gehoor die Here sê vir my:
27. “Mens, luister, die volk Israel sê: ‘Dit sal ’n lang tyd wees, dan sal die dinge gebeur wat die Here vir die profeet gewys het. Die profeet praat oor dinge wat nie gou sal gebeur nie.’
28. Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal niks wat Ek gesê het, later laat gebeur nie. Die dinge wat Ek gesê het, sal nóú gebeur.”Dit is wat die Here gesê het, Hy wat Here is.