Eksodus 40:3-21 Bybel vir Almal (ABA)

3. Jy moet die kis waarin die tien gebooie moet kom, in die tent neersit, agter die gordyn.

4. Jy moet die tafel bring en alles regsit wat daarby moet wees. Jy moet ook die lampstaander bring en die lampe aansteek.

5. Jy moet die goue wierook-altaar voor die kis sit waarin die tien gebooie is en jy moet die gordyn ophang in die ingang van die tempel-tent.

6. Jy moet die brandoffer-altaar neersit voor die tempel-tent, die tent waar Ek aan julle verskyn.

7. Jy moet die was-skottel neersit tussen die tent waar Ek aan julle verskyn en hierdie altaar, en jy moet water in die was-skottel gooi.

8. Jy moet die oop stuk grond rondom die tent toemaak en jy moet die gordyn ophang by die ingang na die oop stuk grond.

9. “Jy moet die salf-olie neem en jy moet die tempel-tent daarmee salf. Salf ook alles wat daarin is. Wy die tent en alles wat daarby moet wees. Die tent sal dan gewy wees.

10. Salf ook die brandoffer-altaar en alles wat daarby moet wees. Jy moet die altaar wy, dan sal dit hoog-gewy wees.

11. “Jy moet die was-skottel en die voetstuk salf en dit ook wy.

12. Jy moet vir Aäron en sy seuns nader bring na die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn. Jy moet hulle met water was.

13. Jy moet vir Aäron die gewyde klere aantrek. Dan moet jy hom salf en hom wy, sodat hy my priester kan wees.

14. Jy moet sy seuns ook nader bring en jy moet die rokke vir hulle aantrek.

15. Salf hulle dan soos jy hulle pa gesalf het, sodat hulle my priesters kan wees. Jy moet hulle salf, dan sal hulle en hulle nageslag altyd my priesters wees.”

16. Moses het alles gedoen, presies soos die Here vir hom gesê het.

17. Hulle het die tempel-tent opgeslaan op die eerste dag van die eerste maand van die tweede jaar nadat die Israeliete uit Egipte weggegaan het.

18. Moses het die tempel-tent opgeslaan:Hy het die voetstukke neergesit, die rame en die pale regop gesit en die dwarspale vasgemaak.

19. Hy het die seil oor die tempel-tent gesit en hy het die ander seil bo-oor gesit. Dit was soos die Here vir Moses gesê het.

20. Hy het die tien gebooie geneem en hy het dit in die kis gesit. Hy het die dra-pale deur die ringe gesteek en hy het die deksel op die kis gesit.

21. Toe het Moses die kis in die tempel-tent gebring en die gordyn opgehang. Die kis waarin die tien gebooie is, was toe agter die gordyn. Dit was soos die Here vir Moses gesê het.

Eksodus 40