Eksodus 16:9-19 Bybel vir Almal (ABA)

9. Moses het vir Aäron gesê hy moet vir al die Israeliete sê: “Kom almal bymekaar, want die Here het gehoor wat julle van Hom gepraat het.”

10. Nadat Aäron met al die Israeliete gepraat het, het hulle omgedraai en na die woestyn gekyk. Hulle het in ’n wolk die lig gesien wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn.

11. Die Here het vir Moses gesê:

12. “Ek het gehoor wat die Israeliete praat. Sê vir hulle: ‘Vanaand sal julle vleis eet en môre-oggend sal julle baie kos hê, meer as genoeg. Dan sal julle weet dat Ek julle God die Here is.’ ”

13. Daardie aand het daar kwartels gekom en hulle het oral in die kamp gaan sit. Toe was daar vleis om te eet.Die volgende oggend was daar dou rondom die kamp.

14. Toe die dou weggaan, was daar iets soos stof op die grond in die woestyn. Dit was korrels en dit het gelyk soos ryp op die grond.

15. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Manna, wat is dit?”Hulle het nie geweet wat dit is nie.

16. Moses het vir hulle gesê: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het gesê julle moet dit optel, elkeen moet genoeg optel om te eet, hy moenie méér optel nie. Julle moet vir elkeen in julle huisgesin ’n omer manna optel.”

17. Die Israeliete het dit gedoen. Party het baie opgetel, en party het min opgetel.

18. Maar toe hulle dit met die kruik gemeet het, was dit genoeg. Elkeen wat baie opgetel het, het nie te veel vir sy huisgesin gehad nie, en elkeen wat min opgetel het, het nie te min vir sy huisgesin gehad nie. Elkeen het genoeg opgetel vir sy huisgesin, hy het nie méér opgetel nie.

19. Moses het vir hulle gesê: “Niemand moet van die kos los tot die volgende oggend nie.”

Eksodus 16