Eksodus 16:19-26 Bybel vir Almal (ABA)

19. Moses het vir hulle gesê: “Niemand moet van die kos los tot die volgende oggend nie.”

20. Maar die Israeliete het nie geluister na Moses nie. Hulle het van die kos gelos tot die volgende oggend. Daar het toe wurms in die kos gekom, en die kos het sleg geword. Moses was baie kwaad vir hulle.

21. Die Israeliete het elke oggend die manna opgetel, elkeen het genoeg opgetel om te eet, hy het nie méér opgetel nie. Wanneer dit later warm geword het, dan het die manna gesmelt wat hulle nie opgetel het nie.

22. Op die sesde dag het hulle twee maal meer manna opgetel, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel.

23. Moses het vir hulle gesê die Here het gesê: “Môre is ’n rusdag, ’n gewyde Sabbatdag vir die Here. Julle mag vandag alles bak wat julle wil bak en alles kook wat julle wil kook. Alles wat oor is, moet julle bêre tot môre-oggend.”

24. Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het die kos gebêre tot die volgende oggend. Dit het nie sleg geword nie en daar het nie wurms in die kos gekom nie.

25. Moses het gesê: “Julle moet dit vandag eet, want vandag is die Sabbatdag vir die Here. Julle sal nie vandag kos in die veld kry nie.

26. Julle moet ses dae lank elke dag manna optel, maar die sewende dag is die Sabbatdag. Dan sal daar nie manna wees nie.”

Eksodus 16