Eksodus 12:42-51 Bybel vir Almal (ABA)

42. Daardie nag het die Here die Israeliete uit Egipte gebring. Dit is ’n nag wat nou aan die Here behoort. Al die Israeliete en hulle nageslag moet hierdie nag wakker bly en hulle moet die Here eer.

43. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet die Paasfees só vier: Net Israeliete mag die Paasfees-kos eet.

44. As iemand ’n slaaf gekoop het en die slaaf is besny, dan mag die slaaf ook die Paasfees-kos eet.

45. Mense wat nie Israeliete is nie en wat vir julle werk of by julle woon, mag nie die Paasfees-kos eet nie.

46. Julle moet die Paasfees-kos eet in die huis waar julle die kos maak. Julle mag nie die vleis uit die huis neem nie. Julle mag nie die dier se bene breek nie.

47. Al die Israeliete moet die Paasfees vier.

48. As ’n vreemdeling by jou woon, en hy wil die Paasfees vir die Here vier, dan moet jy hom eers besny. Jy moet hom en al die mans en seuns in sy huisgesin besny. Dan mag hy ook die fees kom vier. Hy is dan soos ’n Israeliet wat in die land gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag nie die Paasfees-kos eet nie.

49. Julle moet dieselfde wet vir almal gebruik, vir die Israeliete en ook vir die vreemdelinge.”

50. Al die Israeliete het gedoen presies soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

51. Hulle vier die Paasfees nou nog op dieselfde dag wat die Here die Israeliete uit Egipte gebring het toe Hy hulle vrygemaak het.

Eksodus 12