Eksodus 12:30-40 Bybel vir Almal (ABA)

30. Die farao en al sy amptenare en al die Egiptenaars het daardie nag wakker geword en almal het baie gehuil, want in elke huis van die Egiptenaars het iemand gesterf.

31. Die farao het daardie nag vir Moses en Aäron geroep en vir hulle gesê: “Julle moet van my mense weggaan, julle en die ander Israeliete. Gaan dien die Here, soos julle gevra het.

32. Neem ook julle skape en bokke en julle beeste, soos julle gevra het. Gaan weg. Dan sal dit met my ook goed gaan.”

33. Die Egiptenaars het vir die Israeliete gesê hulle moet gou weggaan uit die land. Hulle het gesê: “Ons sal almal sterf as julle nie weggaan nie.”

34. Die Israeliete het hulle brood-deeg saamgeneem. Daar was nog nie suurdeeg in die deeg nie. Hulle het hulle skottels toegedraai met hulle klere en hulle het dit op hulle skouers gedra.

35. Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het silwergoed en goue goed en klere vir die Egiptenaars gevra.

36. Die Here het die Egiptenaars vriendelik gemaak met die Israeliete. Die Egiptenaars het alles gegee wat die Israeliete gevra het. So het die Israeliete die Egiptenaars se goed weggedra.

37. Die Israeliete het van die stad Rameses na die stad Sukkot gegaan. Daar was 600 000 mans. Hulle het nie die vroue en kinders ook getel nie.

38. Baie ander mense wat nie Israeliete was nie, het ook saam met hulle getrek. Die Israeliete het baie skape en bokke en beeste saamgeneem.

39. Hulle het ongesuurde brood gebak van die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in die brood nie, want die Egiptenaars het hulle uit Egipte weggejaag en daar was nie tyd om padkos te maak nie.

40. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gewoon.

Eksodus 12