2 Konings 21:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy was 55 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Gefsiba.

2. Manasse het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, die slegte dinge wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete daar kan woon.

3. Manasse het die offer-plekke weer gebou wat sy pa Hiskia afgebreek het. Hy het altare gebou vir Baäl en hy het ’n gewyde paal gemaak soos die paal wat koning Agab van Israel gemaak het. Manasse het gebuig vir die son en die maan en al die sterre in die lug, en hy het hulle gedien.

4. Hy het vir hulle altare gebou by die tempel. Die Here het voorheen van hierdie tempel gesê: “Hier in Jerusalem wil Ek woon.”

5. Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en al die sterre in die lug.

6. Hy het sy seun verbrand en hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak.

7. Manasse het ’n beeld van Asjera gemaak en hy het dit in die tempel gesit. Die Here het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor hierdie tempel gesê: “Ek wil altyd woon in hierdie tempel en in Jerusalem. Ek het Jerusalem gekies uit die stede van al die stamme van Israel.

8. Ek sal die Israeliete nie weer laat wegjaag van die grond wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het en wat my dienaar Moses vir hulle gesê het in sy wette.”

9. Maar die mense van Juda het nie geluister nie. Manasse het hulle verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon.

10. Die Here het sy dienaars die profete gestuur en gesê:

11. “Koning Manasse van Juda het hierdie slegte dinge gedoen. Die Amoriete wat voorheen in die land was, het slegte dinge gedoen, maar Manasse het slegter dinge gedoen as die Amoriete. Hy het die mense van Juda ook sonde laat doen met sy afgode.

12. Daarom, sê die Here die God van Israel, sal Ek dit nou so sleg laat gaan met Jerusalem en Juda dat elkeen wat daarvan hoor, baie geskok sal wees.

2 Konings 21