13. Koning Sanherib van Assirië het al die sterk stede in die land Juda aangeval en hy het hulle oorwin. Dit was in die veertiende jaar nadat Hiskia koning geword het.
14. Koning Hiskia van Juda het vir die koning van Assirië in die stad Lakis ’n boodskap gestuur. Hiskia het vir hom gesê: “Ek het verkeerd gedoen. Jy moenie teen my oorlog maak nie, ek sal vir jou betaal wat jy vra.”Die koning van Assirië het gesê Hiskia moet 300 talente silwer en 30 talente goud betaal.
15. Hiskia het vir die koning van Assirië al die silwer gegee wat hy kon kry in die tempel en in die stoorkamers van die paleis.
16. Hiskia het ook in daardie tyd die goudplaat afgehaal wat hy aan die tempel se deure en aan die deure se rame laat sit het. Hy het dit vir die koning van Assirië gegee.
17. Die koning van Assirië het sy hoof-offisier en twee ander belangrike offisiere van die stad Lakis na koning Hiskia toe gestuur. Daar was baie soldate saam met die offisiere. Die offisiere het gaan staan by die watersloot uit die boonste dam. Dit was langs die pad na die plek waar die mense altyd die wol gewas het.
18. Die offisiere het geskree en gevra waar die koning is. Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag, seun van Asaf, het na die offisiere toe gegaan. Hulle was die drie belangrikste amptenare van koning Hiskia.
19. Die hoof-offisier het vir hulle gesê: “Julle moet vir koning Hiskia sê ons bring ’n boodskap van die groot koning, die koning van Assirië. Die koning vra vir Hiskia: Hiskia, dink jy iemand kan jou help?
20. Jy wil oorlog maak teen my, maar dit sal jou nie help om net te praat en planne te maak nie.
21. Jy dink nou Egipte sal jou help, maar Egipte is soos ’n riet-kierie wat gebreek het. As jy op die riet druk, dan steek dit jou hand stukkend. Die farao, die koning van Egipte, is soos ’n riet-kierie vir almal wat dink dat hy hulle sal help.
22. Julle sê vir my dat julle God die Here julle sal help, maar ek sê Hy sal dit nie doen nie, want Hiskia het julle God se offer-plekke en altare afgebreek. Hiskia het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê hulle mag net bid by die brandoffer-altaar in Jerusalem.
23. Ek sal vir jou sê wat my koning sal doen, die koning van Assirië. Hy sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg soldate het om op die perde te ry. Maar jy het nie genoeg soldate nie.
24. Jy kan nie ’n oorlog wen teen een goewerneur nie, teen een van die onbelangrikste amptenare van my koning nie. Maar nou dink jy Egipte kan jou help. Jy dink Egipte kan vir jou oorlogkarre en perde gee.