1 Samuel 20:5-17 Bybel vir Almal (ABA)

5. En Dawid het vir Jonatan gesê: “Jy weet, môre is Nuwemaan-fees, en dan moet ek saam met die koning eet. Maar jy moet my laat gaan, sodat ek in die veld kan gaan wegkruip tot oormôre-aand.

6. As jou pa sien ek is nie daar nie, dan moet jy sê: ‘Dawid het vir my gesoebat om gou na sy stad Betlehem te gaan, want sy hele familie gaan om die offer te bring wat hulle elke jaar moet bring.’

7. As jou pa sê dit is goed, dan is ek veilig, maar as hy baie kwaad word, dan moet jy weet hy het klaar besluit om my dood te maak.

8. Maar jy moet onthou dat ek en jy ’n ooreenkoms gemaak het, en die Here is die getuie daarvan. As ek verkeerd gedoen het, dan moet jy self vir my doodmaak. Jy moet my nie na jou pa toe bring nie.”

9. Jonatan het gesê: “Dit sal nooit gebeur nie. As ek weet my pa het vas besluit om jou dood te maak, dan sal ek dit vir jou sê.”

10. Toe vra Dawid: “Wie sal vir my sê of jou pa se antwoord sleg is vir my?”

11. Jonatan het vir Dawid gesê: “Kom ons gaan na die veld.”Hulle twee het veld toe gegaan,

12. en Jonatan het vir Dawid gesê: “So seker soos die Here, die God van Israel, lewe, ek sal oormôre hierdie selfde tyd vir my pa vra, en as sy antwoord goed is vir jou, dan sal ek dit dadelik vir jou laat weet.

13. En as my pa besluit het om jou dood te maak, dan sal ek ook vir jou laat weet. Ek sal jou laat weggaan sodat jy veilig kan wees. Die Here moet my straf as ek dit nie doen nie. En ek bid dat die Here by jou sal wees soos Hy by my pa was.

14. As ek dan nog lewe, dan moet jy onthou ons het ’n ooreenkoms gemaak, en die Here is die getuie daarvan. Dan sal ek nie sterf nie.

15. En wanneer die Here al jou vyande laat sterf, dan moet jy altyd onthou ons ooreenkoms is ook vir my nageslag.

16. En wanneer iemand my saam met jou nageslag laat sterf, dan sal die Here jou vyande straf.”

17. Jonatan het weer gesê Dawid moet dit belowe, want hy was lief vir Dawid. Hy was so lief vir Dawid soos hy vir homself lief was.

1 Samuel 20