17. Jonatan het weer gesê Dawid moet dit belowe, want hy was lief vir Dawid. Hy was so lief vir Dawid soos hy vir homself lief was.
18. Daarna het Jonatan vir Dawid gesê: “Môre is Nuwemaan-fees, en my pa sal sien jy is nie daar nie, want jou sitplek sal leeg wees.
19. En oormôre moet jy kom en gaan wegkruip op die plek waar jy voorheen weggekruip het. Jy moet gaan sit by die Esel-klip.
20. Ek sal dan drie pyle verby die klip skiet. Ek sal maak of ek na iets skiet
21. en ek sal die seun wat by my is, stuur om die pyle te gaan haal. As ek hard vir die seun sê: ‘Kyk, die pyle is tussen my en jou, bring hulle,’ dan moet jy kom, want dan is daar nie probleme nie, so seker soos die Here lewe.
22. Maar as ek vir die seun sê: ‘Kyk, die pyle is daar anderkant jou,’ dan moet jy gaan, want dan stuur die Here jou weg.
23. Maar onthou wat ons vir mekaar gesê het, ek en jy. Moenie dit vergeet nie, die Here is altyd die getuie dat ek en jy ’n ooreenkoms het.”
24. Dawid het weggekruip in die veld. Dit was Nuwemaan-fees, en die koning het by die tafel gaan sit om te eet.
25. Hy het gesit op die plek waar hy altyd gesit het, op die sitplek teen die muur. Jonatan het gestaan, en Abner het langs Saul gesit. Dawid se plek was leeg.
26. Saul het daardie dag niks gesê nie, want hy het gedink iets het met Dawid gebeur wat hom onrein gemaak het.
27. Maar die volgende dag, die tweede dag van die Nuwemaan-fees, was Dawid se plek weer leeg. Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai nie kom eet nie, nie gister nie en ook nie vandag nie?”