1 Kronieke 21:18-30 Bybel vir Almal (ABA)

18. Die Engel van die Here het vir Gad gesê hy moet vir Dawid sê hy moet opgaan en hy moet ’n altaar bou op die dorsvloer van die Jebusiet Ornan.

19. Dawid het gegaan om te doen wat die Here vir Gad gesê het om vir hom te sê.

20. Ornan was besig om koringkorrels uit die koring-are te haal. Toe hy omdraai, het hy die Engel gesien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip.

21. Dawid het na Ornan toe gegaan. En toe Ornan kyk en vir Dawid sien, het hy uit die dorsvloer gekom. Hy het voor Dawid gebuig met sy gesig teen die grond.

22. Dawid sê toe vir Ornan: “Jy moet die plek waar die dorsvloer is, aan my verkoop. Ek wil daar ’n altaar vir die Here bou. Ek sal vir jou alles betaal wat jy daarvoor wil hê. Wanneer ek die altaar gebou het, dan sal die pes ophou.”

23. Ornan het vir Dawid gesê: “Meneer die koning, neem dit vir jou en doen daarmee wat jy besluit. Kyk, ek gee die beeste vir ’n brand-offer en ek gee ook die dors-sleë vir brandhout en die koring vir ’n koring-offer. Ek gee dit alles.”

24. Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: “Nee, ek wil dit van jou koop, jy moet sê hoeveel ek moet betaal. Ek wil dit doen, want ek kan nie iets vir die Here neem as dit aan jou behoort nie. Ek kan nie ’n brand-offer bring as ek nie daarvoor betaal het nie.”

25. Dawid het toe vir Ornan 600 sikkels goud betaal vir die plek.

26. Dawid het daar ’n altaar vir die Here gebou en hy het brand-offers en ete-offers gebring. Hy het tot die Here gebid, en die Here het hom geantwoord. Die Here het uit die hemel vuur gestuur op die brandoffer-altaar.

27. Die Here het met die engel gepraat, en die engel het sy swaard teruggesit in sy leersak.

28. Toe Dawid sien dat die Here hom geantwoord het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het Dawid daar ge-offer.

29. Die tempel-tent van die Here wat Moses in die woestyn laat maak het en die brandoffer-altaar was in daardie tyd nog op die offer-plek by die stad Gibeon.

30. Maar Dawid kon nie daar by die tempel-tent gaan vra wat God wil hê hy moet doen nie, want hy was bang vir die Engel van die Here en vir sy swaard.

1 Kronieke 21