1 Korintiërs 12:9-23 Bybel vir Almal (ABA)

9. Dieselfde Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om sterk in God te glo. Dieselfde Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om mense gesond te maak.

10. Die Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om wonderwerke te doen. Hy gee vir ’n ander persoon die genadegawe om die boodskap van God te bring. Hy gee vir ’n ander persoon die genadegawe om te sê of ’n boodskap van God kom of van bose geeste. Hy gee vir ’n ander persoon die genadegawe om in tale te praat. Die Gees gee vir ’n ander persoon die genadegawe om te tolk wanneer iemand in tale praat.

11. Dit is dieselfde Gees wat hierdie verskillende genadegawes vir mense gee. Hy gee vir elke gelowige sy eie genadegawe. En Hy besluit self watter genadegawe Hy vir elkeen wil gee.

12. ’n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so.

13. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom.

14. ’n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele.

15. Die voet sê miskien: “Ek is nie ’n deel van die liggaam nie, want ek is nie die hand nie,” maar dan is die voet nog altyd ’n deel van die liggaam.

16. Die oor sê miskien: “Ek is nie ’n deel van die liggaam nie, want ek is nie die oog nie,” maar dan is die oor nog altyd ’n deel van die liggaam.

17. As die hele liggaam ’n oog was, dink julle die liggaam sou dan kon hoor? As die hele liggaam ’n oor was, dink julle die liggaam sou dan kon ruik? Nee.

18. Maar nou het God vir die liggaam verskillende dele gegee. Hy het elke deel gegee soos Hy wou.

19. As die hele liggaam net een deel was, dan was daar nie ’n liggaam nie.

20. Nou is daar baie dele, maar daar is net een liggaam.

21. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan ook nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.”

22. Nee, party dele van die liggaam lyk miskien vir ons swakker as ander dele, maar die liggaam het hulle baie nodig.

23. Ons wil nie hê dat mense party dele van die liggaam sien nie, ons is skaam daarvoor, daarom maak ons dit toe met mooi klere.

1 Korintiërs 12