1 Korintiërs 11:12-26 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ja, dit is reg, God het die vrou uit die man gemaak. Maar elke man word uit ’n vrou gebore. En so kom alles van God.

13. Julle moet nou self besluit: Is dit reg dat ’n vrou tot God bid wanneer sy niks op haar kop dra nie? Nee.

14. Ons sien by al die volke dat dit nie reg is dat ’n man lang hare dra nie.

15. Maar as ’n vrou lang hare het en sy maak dit mooi, dan lyk sy pragtig. Want ’n vrou het lang hare gekry sodat sy haar kop kan toemaak.

16. As daar iemand is wat oor hierdie dinge wil stry, dan sê ek vir hom: By ons én by die ander gemeentes van God stry ons nie oor hierdie dinge nie. Die vroue dra altyd sluiers wanneer hulle bid of wanneer hulle ’n boodskap van God bring.

17. Daar is iets anders wat ek vir julle moet sê, maar ek kan julle nie hieroor prys nie. Wanneer julle in die kerk bymekaar is, dan gebeur daar dinge wat julle geloof nie sterker maak nie, dit maak julle geloof swakker.

18. Die eerste ding is: Ander mense het vir my vertel dat daar groepe in julle gemeente is wat teen mekaar is wanneer julle bymekaarkom. En ek dink dit is miskien waar wat daardie mense sê.

19. Miskien is dit goed dat daar groepe is by julle, want nou kan ’n mens sien wie behoort regtig aan Christus en wie behoort nie aan Hom nie.

20. Wanneer julle gemeente bymekaarkom om nagmaal te vier, dan vier julle nie regtig die nagmaal van die Here nie.

21. Want wanneer julle eet, dan is daar party mense wat voor die ander begin eet, en hulle eet dan hulle eie kos. En wat gebeur dan? Party mense kry niks om te eet nie, en ander mense drink te veel.

22. Het julle nie huise waar julle kan eet en drink nie? Ja, julle het. Julle wys dat die gemeente van God glad nie belangrik is vir julle nie, want julle verneder die mense wat min het. Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Nee, nooit nie.

23. Ek sê hierdie dinge vir julle, want die Here self het vir my gesê wat die nagmaal is, en ek het dit ook vir julle geleer: Daardie nag toe Judas Iskariot vir die Here Jesus verraai het, het Jesus brood geneem

24. en Hy het vir God dankie gesê. Toe het Hy die brood gebreek en gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.”

25. Nadat hulle dit geëet het, het Jesus ook die beker geneem en gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die nuwe verbond. Elke maal wanneer julle die wyn drink, dan moet julle aan My dink.”

26. Want elke maal wanneer julle hierdie brood eet en die wyn drink, dan preek julle dat die Here Jesus gesterf het. En julle doen dit totdat Hy weer kom.

1 Korintiërs 11