3. Die man van God het daardie dag gesê die Here sal hierdie teken gee: Die altaar sal oopbars, en die as sal op die grond val.
4. Toe koning Jerobeam hoor wat die man van God sê van die altaar in Bet-El, het hy sy hand uitgesteek van bo-op die altaar en hy het gesê: “Gryp hom!”Maar die hand wat hy uitgesteek het, het styf geword. Hy kon dit nie terugtrek nie.
5. Die altaar het oopgebars, en die as het op die grond geval. Dit was die teken van die Here soos die man van God gesê het.
6. Die koning het vir die man van God gesê: “Praat asseblief mooi met jou God die Here en bid vir my sodat ek my hand kan terugtrek.”Die man van God het dit gedoen, en die koning se hand was weer reg. Dit was weer soos dit voorheen was.
7. Die koning sê toe vir die man van God: “Kom eet saam met my, ek wil vir jou ’n present gee.”
8. Maar die man van God het vir die koning gesê: “Ek sal nie saam met jou kom nie, ook nie as jy die helfte van jou paleis vir my gee nie. En ek sal nie in hierdie plek eet of drink nie,
9. want die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie daar eet of drink nie en jy moenie op dieselfde pad terugkom nie.’ ”
10. Die man van God het op ’n ander pad teruggegaan. Hy het nie teruggegaan op die pad waarop hy na Bet-El gekom het nie.
11. Daar het ’n ou profeet in Bet-El gewoon. Sy seuns het vir hom kom vertel wat die man van God daardie dag in Bet-El gedoen het en wat hy vir die koning gesê het.
12. Die ou profeet vra toe vir sy seuns op watter pad die man van God teruggegaan het, want die seuns het gesien op watter pad die man van God teruggegaan het.
13. Die ou profeet sê toe vir sy seuns hulle moet vir hom ’n donkie opsaal, en hy het op die donkie geklim
14. en gery om die man van God te gaan soek. Hy het die man van God gekry, die man het onder ’n groot boom gesit. Die ou profeet het vir hom gevra: “Is jy die man van God wat van Juda gekom het?”Die man van God het gesê: “Ja, ek is.”
15. Die ou profeet sê toe vir hom: “Kom saam met my huis toe en kom eet iets.”
16. Die man van God het vir die ou profeet gesê: “Ek mag nie saam met jou teruggaan na jou huis nie, ek mag nie eet of drink in hierdie plek nie,
17. want die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie eet of drink nie en jy moenie teruggaan op die pad waarop jy gekom het nie.’ ”
18. Die ou profeet sê toe vir die man van God: “Ek is ook ’n profeet soos jy. ’n Engel het vir my ’n boodskap van die Here gebring en gesê: ‘Jy moet die man van God saambring na jou huis en jy moet vir hom kos gee om te eet en water om te drink.’ ”Maar die ou profeet het vir die man van God gejok.
19. Toe gaan die man van God saam met die ou profeet terug en hy het in sy huis geëet en gedrink.
20. Terwyl hulle by die tafel gesit het, het die Here gepraat met die ou profeet wat die man van God laat terugkom het.
21. Die profeet het gepraat met die man van God wat van Juda gekom het. Hy het geskree en gesê: “Die Here sê: Jy was opstandig teen die Here, jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie!
22. Hy het gesê jy moenie terugkom en eet en drink in hierdie plek nie, maar jy hét teruggekom en dit gedoen. Daarom sal hulle jou lyk nie begrawe in die graf van jou voorvaders nie.”